5 maande gelede
Saxonsea weer Nr.1 in Atlantis
Saxonsea Sekondêr
Saxonsea Sekondêr se matrieks van 2018, kort na hulle hul uitslae by die skool gekry het.  ~ Verskaf

ATLANTIS se skole het heelwat swakker as voorheen gevaar in 2018 se matriek-eindeksamen.

Saxonsea Sekondêr het weer die beste gevaar. Ondanks ’n daling van 1% in sy slaagsyfer het die skool weer koning gekraai met sy matriekslaagsyfer van 96,3%.

Net 5 van sy 134 matrikulante het nie die pyp gerook nie.

Robinvale het sy tweede plek behou met 84,3%.

Die grootste skok onder plaaslike skole is die skerp daling in die slaagsyfer van Proteus, wat Atlantis Sekondêr verlede jaar uit die derde plek gestoot het.

Slimste

Die skool se algehele slaag­syfer het met 13% gedaal. Dit laat Atlantis Sekondêr met 76,3% nou in die derde plek.

Atlantis Sekondêr het in die vorige jaar – ten spyte van die laaste plek – die dorp se slimste leerder opgelewer.

Proteus Sekondêr het egter met die louere weggestap toe sy top-leerder stof in die oë van die res van die dorp se leerders geskop het.

Met sy 82,8% het Chad Smith Atlantis Sekondêr se Siphoxolo Carbithin (82,57%) net-net geklop as die dorp se slimste.

Jolene van Talmakkies van Saxonsea is derde met 76,4%, terwyl Robinvale se Eden Wilson se slaagsyfer van 72,7% haar vierde laat eindig het onder die dorp se matrieks.

’n Opvoeder by Proteus sê hulle is trots op hulle prestasies omdat tegniese skole in Suid-Afrika in hulle geheel swakker gevaar het.

Hy sê tegniese wiskunde, wat verlede jaar die eerste keer aangebied is, het ’n groot impak gemaak. Net 30% van die skool se leerders het dit baasgeraak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters