3 maande gelede
Santaco vra vir ruimte
gee ons space: Taxiverenigings vra dat hul pendelaars geduldig moet wees.Foto: MELINDA STUURMAN  ~ 

DIE ANC-lede van die Wes-Kaapse wetgewer en die SA Na­tional Taxi Council (Santaco) het ’n beroep op pendelaars gedoen om hulle ruimte te gee om voort te gaan met gesprekke nadat Vrydag se vergadering op niks uitgeloop het nie, berig News24.

Die gesprekke het gevolg nadat ’n taxistaking in die provinsie oor ’n leierskapsdispuut voor­lopig Dinsdag uitgestel is.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het op 6 Junie gelas dat Santaco ’n konferensie moet lei om leierskapskwessies in die taxibedryf en spesifieke klou­sules in sy eie grondwet uit te sorteer, berig News24.

Die Minibus Taxi Industry Task Team (MTITT) beweer egter dat Santaco weier om aan dié hofbevel gehoor te gee.

Taxiverenigings in die provinsie is van mening dat hul bekommernisse nie op nasionale vlak aandag geniet nie.

Volgens dié verenigings het dit gelei tot ’n leierskapsvakuum en ’n afname in die interaksie tussen die taxiverenigings se provinsiale en streekstrukture.

Doelstelling

Die ANC het Vrydag voort­gegaan met sy bemiddelings­pogings met die nasionale en provinsiale verteenwoordigers van Santaco, sowel as die MTITT.

In ’n gesamentlike verklaring het ál die partye te kenne gegee die vergadering het in ’n baie positiewe gees plaasgevind.

Die verklaring lui verder dat dit belanghebbende groepe se doelstelling is om met ’n oplossing vorendag te kom wat in belang van pendelaars sal wees, en ’n stabiele en veilige taxibedryf sal verseker.

“Dié vergaderings het egter nog nie tot uitsluitsel gelei nie en om dié rede het alle partye ooreengekom om voort te gaan met die gesprekke,” lui die verklaring.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters