11 dae gelede
Saak ‘op waglys’ oor mannekrag te min is
steeds weg: Ná maande is daar nog geen duidelikheid oor wat met klein Jeneva Diergal gebeur het nie.FOTO VERSKAF  ~ 

NÁ MEER as vyf maande is daar steeds geen spoor van ’n vermiste, gestremde meisietjie nie.

Jeneva Diergal (8) het al in Januarie uit die Donkerhoek-buurt in Klawer verdwyn.

Sy was ten tyde van haar verdwyning in die sorg van haar antie Juanita Saxon (24). Haar ma was dorp toe.

“Jeneva het saam met een van my kinders voor haar ma se hok gespeel,” het Juanita destyds aan Son op Sondag vertel. “My kind het later teruggekom en toe Jeneva nie uitkom nie, het ons haar gaan soek. Ons kon haar nêrens kry nie.”

Allerhande stories loop steeds rond oor wat van klein Jeneva geword het.

Vreemdeling

Die familie moes deal met gerugte dat die kleinding gevat is deur ’n man wat in Clanwilliam bly. Daar was selfs skinderbek­nuus dat haar eie ma haar vir R300 verkoop het.

Oor een ding stem almal tot dusver saam: Jeneva sou nie saam met ’n vreemdeling die pad gevat het nie. Sy was glo baie sku vir vreemdelinge.

Sy het net met mense gepraat wat aan haar bekend was.

’n Klawer-inwoner wat baie na aan die soektog na Jeneva was, sê hulle vrees die ergste.

“Ná soveel maande kwyn die hoop mos.

Leeg

“Toe Jeneva aanvanklik weg­geraak het, het ons die polisie aangeraai om te soek tussen die hokkies waar sy laas gesien is.

“Maar hulle (die polisie) het aan ons gesê hulle weet wat hulle doen.”

Inwoners moan ook oor die Klawer-polisiestasie en die gebrek aan mannekrag daar om die ondersoek na Jeneva warm te hou.

By Son op Sondag se besoek aan die cop shop was dit basies leeg.

“Ons het nie staff nie. Dis net ek hier,” het ’n polisiebeampte aan diens gesê.

Volgens dié polisiebeampte is dit maar ’n mission om misdaad te ondersoek.

Die beampte het ook gesê: “Ai, die Jeneva-storie is ’n ander een.

“Ons het eenvoudig nie mannekrag nie. As ons dan sake moet ondersoek, moet ons soort van ’n waglys afwerk omdat ons nie by almal kan uitkom nie.”

Die Wes-Kaapse polisiediens is gekontak om te hoor of daar nog na Jeneva gesoek word.

Son op Sondag wag al van Donderdag af op die polisie se kommentaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters