Verlede maand
Rus nou sag, klein Tazne
VAARWEL: Tazne van Wyk se kis word by haar huis uitgedra.  ~ Jonathan Lestrade

NES daar saamgestaan is toe daar na Tazne van Wyk gesoek is, so het die gemeenskap gister in hulle getalle uitgekom om finaal van haar afskeid te neem.

Dié agjarige meisietjie se lewe is kortgeknip nadat sy op 7 Februarie voor haar ouerhuis in Elsies­rivier soos mis voor die son verdwyn het.

Tazne is 11 dae later in ’n stormwaterpyp op die N1 net buite Worcester gevind nadat haar vermeende kidnapper en moordenaar, Moyhdian Pangarker, haar lyk aan die polisie gaan uitwys het.

Haar verdwyning en moord het nie net haar gemeenskap nie, maar die hele land geruk.

Meer as 300 mense het gister klein Tazne se begrafnis bygewoon om haar ter ruste te lê.

Tazne se familie het by hulle huis ’n private diens gehad nadat haar klein wit kissie by haar ouerhuis ingeneem is.

Die gemeenskap het buite gestaan in stilte om respek te toon vir die meisietjie en aan haar familie, wat hulle geliefde kind verloor het.

Ná die diens by die huis is die lykswa deur die VGK Goodwood se brigade na die kerk gelei waar die diens gehou is.

Dr. Nomafrench Mbombo, provinsiale minister van gesondheid, het in haar toespraak aan die begrafnisgangers gesê die regering vir wie sy werk, het Tazne gefaal.

“Ons kinders word vermoor en verkrag deur hulle eie pa’s en uncles. Ons is kwaad en ons bloei van binne. Die bastards soek na geleenthede!”

“Ons manne se siele is gebroke. Hy (die vermeende moordenaar) was veronderstel om na haar om te sien,” sê sy.

Daarna het die burgemeester van Kaapstad, Dan Plato, aan die gemeente gesê mans wat vroue en kinders verkrag en vermoor, en dan weggooi asof hulle van geen waarde is nie, het iets spesifieks fout met hulle en dit is nou tyd om te kyk wat die rol van mans teenoor vroue is.

Bedank

“Dit is nodig dat die fokus op mans gerig moet word omdat ’n spesifieke probleem hulle in die gesig staar,” sê hy.

Hy het verder die gemeente bedank vir hulle ondersteuning in die moeilike tyd toe daar na Tazne gesoek is, maar ook nadat sy gevind is.

“Ons het almal saamgekom en dit is hoe dit elke keer moet wees,” sê Plato.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters