4 maande gelede
‘Rapist’ volg sy victim na skool
Soek antwoorde: Die ma sê sy gaan die groot onreg wat haar kind aangedoen is, nie net so los nie.  ~ 

CERES. – “Ek gaan nie rus vir my siel kry voordat ek hierdie geveg gewen het nie.”

So sê die vasbeslote ma van een van die seuntjies wat laas November na bewering deur vier mede-leerders by hulle skool verkrag is.

Die nare voorval het op 18 November verlede jaar op die skoolgrond van Koelfontein Primêr buite Prince Alfred Hamlet gebeur.

Vier seuns het die 11-jarige Da­mian (skuilnaam) en drie van sy maatjies uit hulle klaskamer gelok en toe om die beurt verkrag.

Gesluit

Dit was terwyl hulle klas-onnie glo geslaap het.

Volgens Damian se mammie het die vier groterige seuns haar seun en sy maats kom roep om hulle te help stoele dra.

“Hulle moes die stoele uit die biblioteek gaan verwyder, maar toe Damian-hulle die vertrek binnegaan, is die deur agter hulle gesluit.

“Die oudste van die seuns het toe ’n ou gordyn oor ’n tafel gegooi en sy maats opdrag gegee om Damian-hulle een vir een onder die tafel te verkrag.

“Hierna moes van die slagoffers glo ook die verkragters afskommel.”

Die mammie sê sy het die betrokke dag geen onraad vermoed toe Damian tuiskom nie.

“Hy was stil en het snaaks geloop, maar wou nie praat nie.

“ ’n Paar dae later het my dogter wat op hoërskool is my gebel en gevra of ek gehoor het wat met Damian gebeur het.

“My verstand wou dit nie glo nie. Diep in my het ek gewens dat dit net ’n misverstand was, maar toe die skoolhoof dit bevestig, het dit gevoel of alles uitmekaar val.”

Die mammie sê daaropvolgende mediese toetse het hulle ergste vrese bevestig.

Maar, sê sy, dit was maar net die begin van ’n nare nagmerrie.

“Ons het Da­mian uit die skool verwyder, maar met die begin van skool in Januarie vanjaar was een van sy verkragters dan nou in sy nuwe skool.

“Die maatskaplike werker het gesê sy sal vra dat die skool seker maak hulle kom nie gedurende pouses in aanraking nie, maar hulle ry dan nog met dieselfde taxi skool en huis toe.

“Ek hoor ook gerugte dat maatskaplike werkers wil hê die saak teen een van die verkragters moet laat vaar word omdat daar glo probleme in sy huis is, maar wat van die probleme wat nou in my huishouding is?

“Damian is nie meer dieselfde kind nie. Hy is teruggetrokke, sonder energie en het mood swings.

“Maar steeds wil mense maak asof ons onnodig is deur op geregtigheid aan te dring.

“Die kinders wat dit aan my kind gedoen het, moet boet vir hulle dade, so ook die onnie wat in die klas lê en slaap het.”

Erken

Damian het onmiddellik toegeklap en wou nie veel sê toe hy uitgevra is oor daardie horrific dag nie. Hy ontvang berading.

“Die onderwyser het op die tafel gelê en slaap toe die seuns ons kom roep het. En toe ons daarna weer terug klas toe kom, toe slaap die onderwyser steeds,” het hy gesê.

Naomi Thomas, ’n paralegal verbonde aan die Witzenberg Rural Development Centre, sê die betrokke onderwyser het in ’n dissiplinêre verhoor erken hy het tydens die voorval geslaap.

“Die Wes-Kaapse onderwysdepartement is bewus van hierdie erkenning, maar geen stappe is al teen hierdie onnie gedoen nie,” sê Thomas

“Al wat hierdie onderwyser gesê het, is dat hy nie lekker gevoel het nie en aan die slaap geraak het.

“Hierdie is nie ’n saak oor vier seuntjies wat nie hulle huiswerk gedoen het nie, maar vier seuntjies wat verkrag is.

“As hierdie ’n wit skool was, sou die prentjie heel anders gewees het, maar dit is mos nou ’n plaasskool.

“Die hele manier hoe hierdie gebeure deur die WKOD gehanteer word, wys maar net weer hoe plaasmense vir ’n gat gevat word.”

  • Die jong verdagtes het reeds op ’n klag van verkragting in die Ceres-landdroshof verskyn.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters