11 dae gelede
Pynlike afskeid
rus sag: Altecia Kortje en haar dogter, Raynecia, is gister só onthou. FOTO VERSKAF  ~ 

‘Wanneer gaan die seer ophou?”

Só het rouklaers onder mekaar gepraat terwyl die kiste van Altecia Kortje en haar sewejarige dogter, Raynecia, by hul ouerhuis ingedra is.

Die 27-jarige ma en haar geliefde dogtertjie is gisteroggend ter ruste gelê.

Die twee wit kiste met goue bedekkings is tot in Altecia se ouerhuis in Delft gedra waar die familie en vriende rondom dit byeengekom het.

Die geween van een rouklaer het die doodse stilte buitekant die huis verbreek.

Tientalle mense het saam met Dorina en Martin Kortje afskeid van hul kind en kleinkind geneem.

Die klein meisietjie en haar ma se sinnelose en grusame moord het nie net hul gemeenskap geruk nie, maar die hele land.

Vermis

Die lyke van Altecia en Raynecia is op 12 Junie in ’n woning in Commerce Way, Belhar ontdek.

Selfs pres. Cyril Ramaphosa het verlede week na dié mammie en haar kind in sy lockdown speech verwys.

Die polisie het op hul lyke afgekom nadat die ma en kind reeds op 9 Junie as vermis aangemeld is.

Klein Raynecia se pa, Ryan Smith (28), word van die moord aangekla.

Familie en vriende van Altecia en Raynecia het ná die diens by die huis na die Nuwe Apostoliese Kerk in Leidenlaan, Delft, vertrek waar net 50 mense die kerkdiens kon bywoon weens die streng lockdown-regulasies.

’n Kollega van Altecia wat anoniem wou bly, het ook kom afskeid neem van haar geliefde vriendin.

Ondersteuning

“Ek is nog in skok oor wat gebeur het en probeer nog alles te process. Sy was ’n liefdevolle mense.

“Sy sal altyd onthou word en haar lekker laggie sal gemis word,” het sy hartseer gesê.

Terwyl die naasbestaandes die kerk binnegegaan het, het sommige van die rouklaers in hul karre gebly sit om hul ondersteuning aan die familie te toon.

Smith het in sy eerste hofverskyning aangevoer hy het gronde vir bail omdat hy ’n skoon rekord met geen vorige veroordelings het nie.

Die staat staan borgtog teen.

Die borgtogaansoek het egter nie voortgegaan nie omdat daar ’n issue was met die twee adresse wat hy verskaf was.

Smith verskyn weer môre in die hof vir sy borgtogaansoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters