2 maande gelede
Pyn toe een, twee ... drie pienkvoete!
SWEETHEARTS: Ashlene en Christopher Solomons het onverwags die ouers van vyf geword.  ~ Verskaf

’N EGPAAR van Kraaifontein was aangenaam verras toe hulle ondanks birth control en ál ’n drieling ryker geword het.

Christopher (44) en Ashlene Solomons (33) het in Januarie uitgevind hulle gaan drie dogters bykry nadat Ash­lene van rugpyn gekla het.

Christopher vertel: “Ek het nog vir haar gesê sy is swanger.

“Sy was nie impressed nie en het gesê ek moenie vir my laf hou nie.”

Toe Ashlene die pregnancy-toets doen en dit bevestig sy is swanger, was hulle albei geskok en glad nie voorbereid op wat wag nie.

“Toe ons by die dokter kom, is dit bevestig dat ons wel verwag.

“Die dokter het met die sonar­ondersoek gesê: ‘Geluk! Julle verwag ’n dogtertjie! Wag, daar is nog een. En nog een!’ ”

Christopher sê hy het hom byna natgemaak van skok.

“My vrou was net so geskok, veral omdat sy op birth control was.”

Dié high school sweethearts het ook twee seuns van onderskeidelik 12 en 6.

Hulle drie bondeltjies vreugde moes einde Mei kom, maar het twee maande vroeër, op 23 Maart, hulle verskyning gemaak.

“Hulle is nog baie kleintjies en moet nog aansterk.

“Hulle moet meer as 2 kg elk weeg voordat hulle die hospitaal kan verlaat. En hulle longe moet ’n bietjie sterker word.”

Ashlene is saam met die meisies in die Tygerberg Hospitaal.

Christopher is ál een wat hulle kan besoek.

“Met die corona-virus kan ek my kleintjies en my vrou net een uur elke dag sien.

“Ek is baie impressed met die hospitaal se voorsorgmaatreëls en gee glad nie om om deur dit als te gaan nie. Maar as my tyd om is by hulle, mis ek hulle.”

Hy sê hulle is dankbaar vir die mense wat sedert die kinders se geboorte ’n hand uitgereik het.

“Ons is baie bevoorreg om nie net drie bondeltjies te hê nie, maar ook mense wat omgee,” voeg Christopher by.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters