27 dae gelede
Prossies se GRU-saak sloer 5 jaar
Saak uitgestel: Johan Kieser is in 2015 vermoor.  ~ Verskaf

DIE saak van twee Kaapse seks­werkers – Linda Siebritz (43) en Charise Doubell (37) onderskeidelik van Parow en Brackenfell – duur nou al langer as vyf jaar sonder dat die verhoor al begin het.

Die saak kom voor in die Malmesbury Streekhof.

Die staat voer in die klagstaat aan hulle het die 65-jarige Johan Kieser op 4 Januarie 2015 vermoor het.

Hy het in die tekstielbedryf gewerk en was ’n wêreldbekende hondeteler.

Die beskuldigdes het Kieser na bewering daai dag in sy huis in Goudmynstraat, Moorreesburg, met ’n oordosis heroïen ingespuit en van ’n kredietkaart en kontant gesteel waarmee hulle dwelms gekoop het.

Kieser se liggaam is van die Ceres-bergpas se kranse afgegooi. Die lyk is op 7 Januarie 2015 deur reddingswerkers na die oppervlak gehys.

Hendrik Boonzaaier (30), die prossies se pimp én beskuldige nr. 3, is laas jaar aan ’n hartaanval dood.

Vrygelaat

Siebritz het die dag ná die moord ’n verklaring by die polisie afgelê en alles erken.

Hulle was eers voor in die Moorreesburg Landdroshof, maar die saak is na die Malmesbury Streekhof oorgeplaas en die beskuldiges is op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Die uitstellery is veroorsaak omdat die vroue kort-kort van prokureur verander het totdat die streeklanddros die laaste uitstel toegestaan het.

Die hofsaak is gister wéér uitgestel tot 27 Januarie omdat die streekhof afgebrand het en ’n geskikte hof vir die verhoor gereël moet word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters