7 dae gelede
Projek is blessing vir armes
SAMARITANE: Die span van Project Raven gaan binnekort weer ’n smile op vele armes se gesigte sit.  ~ Foto Verskaf

AS DAAR nou een ding is wat altyd op Daniel Davis se hart is, dan is dit om die armste van die armes te help.

En al het dit ’n paar jaar gevat om sy droom ’n realiteit te maak, het hierdie 64-jarige inwoner van Grassy Park dit reggekry.

Davis is die voorsitter van Project Raven, wat in 2016 begin is om mense in armer gebiede, veral op die platteland, te help.

Hulle mikpunt is om vanjaar 5 000 kospakkies onder die armes uit te deel.

Davis sê: “Dit sal vir baie ’n vroeë Krismisgeskenk wees en dalk vir sommige hulle enigste kos vir die feesdag.”

Hy sê hy het nooit in sy wildste drome gedink die projek sou só kon groei nie.

“Ek beloof jou een ding – ek gaan nie ophou daarmee nie. Ek het altyd ’n passie gehad om mense te help.

“En nie net enige mens nie ... Ons almal sukkel, maar jy kry verskillende levels van armoede.

“Ons kyk na diegene wat elke dag wonder waar môre se stukkie brood vandaan gaan kom.”

Davis, wat met ’n span kerkmense en nieregeringsorganisasies (NGOs) saamwerk, sê sy oë het wyd oopgegaan toe hy die eerste keer kos in ’n plattelandse gemeenskap uitgedeel het.

“Weet jy, Meisie, ek het gedog ék kry swaar totdat ek gesien het hoe dankbaar dié mense vir ’n bietjie koffie is.

“Dis die kleinste dinge wat ons nie raaksien nie. Soos wanneer ons tee maak, gooi ons die teesakkie sommer weg.

“Hulle hang dit letterlik aan ’n lyn op en gebruik dit weer.”

Davis sê sy hart het so vinnig geklop toe die mense vir hom en sy span die hele tyd net dankie sê. “Jy voel goed, maar ook hartseer, want hier is ’n mens nes jy, maar wat regtig swaarkry.”

Realiteit

Hy sê hy wens hy kan ook in meer gemeenskappe werk en glo dit sal binnekort gebeur.

“Daar baie mense wat dit nodig het. Dis hulle realiteit om so swaar te kry en dis ons droom om hulle te help.”

Davis se veldtog skop vanjaar op 13 Desember af.

Mense wat ’n bydrae wil maak, kan hom bel by 082 709 7482.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters