27 dae gelede
Politician sê armes ly oor sy trekpas kry
Hokaai: Alvina Abrahams sê Icosa se optrede is ’n klap in die gesig.  ~ Curt Lottring

’N KLAP in die gesig van die armste van die armes.

So word die besluit beskou van die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa) om van hulle Drakenstein Munisipaliteit-raadslid, Alvina Abrahams, ontslae te raak.

Abrahams is ná maande se kopstampery met die Icosa-leierskorps vandeesweek die deur gewys.

Nie net was sy Icosa se verteenwoordiger in die Drakenstein Munisipaliteit nie, maar was ook die party se vise-president.

Abrahams het haar oor die jare bewys as ’n vuurvreter-vegter vir veral die regte van plaaswerkers. ’n Vrou wat vir niemand terugstaan nie.

Sy was jare gelede in die nuus toe die oud-Bok Schalk Burger sr. haar op sy plaas in die Wellington-distrik verbied het.

Son op Sondag het verlede jaar berig oor Abrahams se geskil met Icosa en Icosa wat daarop aandring dat sy nie net 10% van haar salaris wat sy as raadslid verdien aan die party moet oorbetaal nie, maar ook 10% van haar tools of trade­-gelde moet afkap.

Hierdie is geld wat raadslede by Drakenstein Munisipaliteit kry vir die aankoop van airtime en data om hulle pligte as raadslede uit te voer.

Son op Sondag het vandeesweek met Abrahams gesels ná afloop van ’n doktersbesoek.

’n Moeë Abrahams sê: “Ek is so gestres dat die dokter my by ’n kliniek wou inboek.

“Ek het die party sedert 2013 uit my eie sak gedra. Duisende rande uitgegee en moes vir my eie T-shirts betaal.

“Nou is ek nie meer goed genoeg vir die party nie omdat ek weier om daai gelde aan hulle te betaal.”

Volgens Abrahams gaan sy haar tyd vat om oor haar volgende stap te besin.

“Ek kry net die mense jammer wat ek gedien het, want dis hulle wat hieronder gaan ly.

“Ek moes vir ’n jaar en ’n half hof loop in die Schalk Burger-saak en Icosa het my nooit bygestaan nie.”

André Davids, Icosa se ondervoorsitter in die Drakenstein-streek, het voorheen aan Son op Sondag gesê die twee dissiplinêre verhore wat Abrahams se afdanking voorafgegaan gegaan het, was niks anders as ’n heksejag teen haar nie.

Ongrondwetlik

Davids het toe onderneem om ook die pad te vat as Abrahams uitgeskop sou word.

Henry Syster, Icosa-raadslid in die Theewaterskloof Munisipaliteit, is ook in die pad gesteek. Volgens Syster is hy in November verlede jaar verwittig van dissiplinêre optrede teen hom.

“My regsverteenwoordiger het toe kapsie gemaak dat dit ongrondwetlik is, maar Icosa se NUK het op 1 Desember op ’n vergadering my lidmaatskap getermineer.

“Ek gaan die saak nie so los nie.

“Die hofstukke is reeds opgetrek en ek wag nog net op ’n nuwe hooggeregshofdatum,” vertel Sys­ter. 

Hof: Henry Syster sê hy gaan sy afdanking as raadslid beveg.

Icosa se president, Jeffrey Donson, het in reaksie erken dat Abrahams deur hulle as Icosa-raadslid verwyder is.

“Maar ek kan nie nou veel meer as d’it sê nie.

“ Ons NUK vergader die naweek in Mosselbaai en dit is eers ná afloop van hierdie vergadering dat ons meer sal kan sê,” sê hy. 

Leier: Die Icosa-leier, Jeffrey Donson, sê hulle sal eers ná afloop van hulle NUK-vergadering meer lig op die afdankings kan werp.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters