2 maande gelede
Polisie laat ou hom dood skrik
Tragies: Petrus Miggel het hom vermoedelik doodgeskrik nadat cops hom tydens die lockdown met twee biere buite sy huis gevang het.  ~ Peter Abrahams

DAG 1 van die landwye Covid-19 lockdown het sy eerste lewe op die Kaapse Vlakte geëis.

Die oorledene (55) het Vrydag­oggend die skok van sy lewe gekry toe polisielede hom vir die besit van twee biere agter in hulle vên gegooi het.

Petrus “Pietman” Miggels van Uitsig naby Ravensmead wou ook nie sê waar hy die biere gekry het nie, maar het wel voor sy dood aan mense vertel “hoe die gattas hom oor die hande geslaan het”.

Volgens ’n ooggetuie is Miggels net enkele meters van sy huis in Carnationstraat deur wetstoepassers voorgekeer.

Die ooggetuie vertel: “Ek sien nog hoe hulle sy groen sak van hom gryp waarin die twee biere was.

“Toe gryp hulle hom en wou weet waar hy die drank gekoop het. Hy was só bang.

“Toe gooi hulle hom agter in die vên, ry ’n ent af in die pad en laat hom uit sonder die biere.”

Die inwoner sê sy het nog gesien hoe Miggels huis toe loop en ’n paar minute daarna het commotion by sy huis uitgebreek.

“Sy girlfriend het geskreeu dat hy dood is.”

Hart

Cecelia Meintjies (58), Pietman se girlfriend, vertel die biere was nie eens vir haar berk nie.

“Hy het vir iemand geloop sodat hy ’n odd kon kry omdat sy werk toegemaak het.

“Almal ken hom. Hy was ’n sagte man met ’n groot hart, en moes baie groot geskrik het.”

Meintjies sê sy sal haar Pietman vir sy lag onthou.

“Selfs tot die einde, toe hy daar lê.

“Ons weet wat gebeur het omdat hy self gepraat het toe hy in dié state gaan.

“Hoekom moes hulle hom geslaan het? Hy was ’n ou man.”

Pietman se vriend en buurman het Meintjies se storie beaam en gesê voordat sy vriend gesterf het, het hulle nog lekker gesels.

“Daai man was nou rêrig ’n goeie man,” het die buurman gesê.

’n Navraag oor die tragedie is aan die polisie gestuur, maar teen druktyd was daar nog geen sien van die cops se kommentaar nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters