2 maande gelede
Polisie en army looi drank-koper
BEBLOED: Charnay Valentine (35) van Delft sê ’n groep cops en soldate het haar Saterdagaand aangerand nadat sy ’n paar biere gaan koop het.  ~ Verskaf

’N VERSTANDELIKE gestremde vrou van Delft beweer die cops en lede van die army het haar aangerand.

Die beweerde voorval het Saterdagaand gebeur toe hulle drank by ’n smokkelhuis gaan koop het.

Die voorval kom nadat die minister van die polisie, Bheki Cele, verlede week aangekondig het dat daar geen drank ná 18:00 verkoop mag word nie.

Dit is deel van pres. Cyril Ramaphosa se maat­reëls wat ingestel is om die Covid-19-epidemie te probeer stop.

Charnay Valentine (35) vertel sy het die aand omstreeks 22:00 saam met haar twee niggies biere by ’n smokkelhuis in Gateway gaan koop.

Valentine sê: “Ek wou nie saam nie, maar hulle het dik gehou dat ek moet saamloop.

“Ons was op pad terug huis toe toe ’n kombi en ’n private kar by ons stop.

Weggehardloop

“Daar was army-ouens in die kombi en in die private kar was cops gewees.

“Hulle het uitgeklim en ’n skoot in die lug opgeskiet.

“My twee niggies het weggehardloop met die biere.

“Hulle het my net so gelos. Ek was só vreesbevange dat ek nie kon weghardloop nie.

“Hulle het begin om my rond te stamp. My lip was stukkend geslaan en my mond het gebloei. Hulle het my ook geskop en getrap.

“Ek het kans gekry om weg te kom en by mense se huis ingehardloop.

“Die volgende dag was my lyf en nek seer en ek kon nie gaan werk nie. My lip was ook opgeswel. Ek’s baie teleurgesteld oor die cops en army wat soos skollies opgetree het.”

Valentine, wat deel is van Walking Bus-lede in Delft, het aangedui dat sy nie ’n saak gaan maak nie.

Sy het Dinsdag saam met die ander Walking Bus-lede pamflette in die gemeenskap oor die corona-virus uitgedeel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters