15 dae gelede
Plain se mense kry hupstoot
VISION: Naomi Dry en Raphael Foster is deel van HandiAfrica se span, wat ’n verskil in ander mense se lewe wil maak.  ~ Eldridge Jason

WANNEER jy in ander mense se lewe goed wil doen, is die beste beloning wat jy kan kry, die smile op hulle gesig.

Vra maar die lede van HandiAfrica, ’n organisasie sonder winsoogmerk van Eastridge in Mitchells Plain, wat eiehandig die inwoners se lot wil verbeter.

HandiAfrica is maar in sy babafase en is nog nie eens ’n jaar oud nie.

Konsep

Dis die breinkind van Delia, John en Raphael Foster, sowel as Naomi Fry en Kim Petersen – inwoners van die soil van die Plain.

Hulle is geesdrif­tiges wat wil seker maak mense sien nie net die slegte dinge wat daagliks in hulle gemeenskap gebeur nie, maar ook die positiewe.

“Ons wil ons community ophef,” vertel John. “Delia, ons suster, bly in Johannesburg en sy het met die konsep vir HandiAfrica opgekom en ons het daarby ingeskakel.

“Ons is nie daarop gemik om handouts vir mense te gee nie, maar hulle met skills te equip waarmee hulle ’n volhoubare inkomste kan genereer.”

Antie Naomi Fry beaam dit en sê dit is vir haar ’n absolute riem onder die hart om in haar gemeenskappe terug te ploeg.

“Gedurende die festive days het inwoners skenkings aan ons gedoen waarmee ons veral kinders van etes kon voorsien, sowel as klere en geskenke.

“Sjoe, om die blydskap op die kindergesiggies te kon sien, was iets anders.

“Die ouers kon ons nie genoeg bedank nie, want vir die eerste keer kon hulle kinders ook nuwe klere op Kersdag aanhet.

“Dit is sulke dinge wat ons motiveer om meer en meer vir ons community te doen.”

John sê hulle is vol vertroue dat 2020 hulle jaar gaan wees.

“Ons is nuut in die bedryf en moet nog ’n verhouding met verskeie regeringsdepartemente opbou. Maar dit sal ons gedoen kry.

“Dan is dit ons missie om hierdie jaar seker te maak die inwoners word bloot­gestel aan verskeie vaardigheidskursusse waaruit hulle dan ’n inkomste kan maak.”

Sonlanders en sakeondernemings wat by die organisasie betrokke wil raak, word genooi om hulle webtuiste te besoek by handiappafrica.co.za.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters