17 dae gelede
Plaaswerkers se skip kom en gaan

DE DOORNS. – Die moeder van alle skandes.

Só kan daar met reg verwys word na ’n bemagtigingsprojek wat veronderstel was om die lewe van plaaswerkers te verbeter.

Maar toe verander alles vir hierdie werkers in ’n nagmerrie. Soveel so dat een van hulle hom letterlik dood geworry het.

Die vreugdevure van 24 plaaswerkers het hoog gebrand toe die National Empowerment Fund (NEF) hulle lot verander het van plaaswerker tot plaaseienaar.

’n Allemintige R75 miljoen is deur die NEF bewillig sodat hierdie begunstigdes die plaas Hoogland in die Touwsrivier-omgewing kon bekom en as hulle eie kon bedryf.

Maar skaars ’n jaar en ’n half later is hierdie geld op.

Lesley Oliphant was een van die plaaswerkers wat op die raad van direkteure gedien het. Saam met hom op die raad was Luan Jordaan, oorspronklike eienaar van die plaas Hoogland.

Volgens Oliphant is daar aanvanklik R29 miljoen aan Jordaan en sy broers betaal vir die plaas.

“R14,5 miljoen van hierdie bedrag is gebruik om die verband op die plaas af te betaal. Die ander R14,5 miljoen moes teruggesit word in die plaas in die vorm van equity shares, wat die Jordaans ’n 50%-belang in die plaas sou gee.

“Ons as beneficiaries sou spaarplanne, mediese fondse en behuisingsvoordele kry en ná drie jaar dividende uit die plaas verdien.

“Ná 30 jaar sou die plaas ten volle aan die beneficiaries behoort, maar net ná ’n jaar en ’n half was die geld op.”

Oliphant sê hierdie nuus was soos yskoue water op hulle drome.

“Ons was so opgewonde, want ná ál die jare van net ’n plaaswerker wees, sou ons grondeienaars raak. Maar toe droog die geld op. Hoe, weet ons nie.

“As direkteur het Jordaan maandeliks R95 000 gepay, sy broer R85 000 ’n maand en twee ander boere onderskeidelik R95 000 en R55 000 ’n maand.

“Die plaaswerkers wat die beneficiaries was, het R260 ’n dag verdien.”

Oliphant sê van die oorspronklike R75 miljoen is daar nog R11,1 miljoen oor wat die NEF weier om uit te betaal.

“ ’n Besigheid-rescue-verslag wat saamgestel is, het bevind dat bedrywighede op die plaas kan voortgaan, maar dan sal die salarisstruktuur verander moet word.

“Ek is aanvanklik aangestel as junior produksiebestuurder, maar weet nou self nie wat die toekoms vir my inhou nie.

“Dit is nou vir my duidelik dat ons net as window dressing gebruik is, want ons lewe het definitief nie verbeter nie.”

By Son op Sondag se besoek aan die begunstigdes, was oom Hannes Fink (54) niks lekker oor die affêre nie.

“Ons het gedink hierdie was die ideale kans om ons eie en ons gesinne se lewe te verbeter.

“Ek bly dan nou ’n benadeelde. Ons het gedink dat daar ’n tyd sou kom dat ons verbaas sou wees oor dit wat ons vir ons kinders vermag het, maar danksy die regering kry ons dan nou nog swaar.”

Hierdie was van oom Hannes se laaste woorde. Die volgende dag het die oom vermoedelik aan ’n hartaanval gesterf.

“Hy het net teruggedraai huis toe, op die bed gaan sit en sy T-shirt uitgetrek, en toe omgeval en gesterf,” vertel ’n ander begunstigde, Michael Hartog.

’n Hartstogtelike Hartog sê hy kan nie glo hulle word so vir ’n ride gevat nie.

“Ons beneficiaries word nou afgedruk en daai R260 ’n dag is nou weer afgebring na R160.”

Oom Willem Maart (68) was vir 40 jaar ’n plaaswerker en het gesê hy het gehoop die inisiatief gaan sy skip inbring.

Vergadering

“Toe ek ná 40 jaar afgetree het, was my pensioengeld net R600.

“Met hierdie projek wat dan nou gevou het, moet ek op my ouderdom weer werk om die pot aan die kook te hou.”

Nog ’n begunstigde, Mario Pieterse, sê hulle soek antwoorde met ’n seer hart.

“Ons het al hoeveel skrywes gerig aan die NEF en die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming (DRDLR) om ’n vergadering aan te vra, maar niemand kom terug na ons toe nie.

“Ons het gehoor dat ’n ouditverslag bevind het dat R28 miljoen voete gekry het, maar niemand wil ons iets hieroor sê nie.”

Luan Jordaan, een van die oorspronklike eienaars van die plaas Hoogland, sê dit is hartseer wat nou met die begunstigdes gebeur.

Jordaan het aan Son op Sondag bevestig dat hy as direksielid ’n maandelikse salaris van R95 000 getrek het toe dinge goed verloop het in die projek.

“Maar ná tax het ek maar so R50 000 uitgekry.

“Dit was natuurlik met die goedkeuring van die NEF dat so ’n salaris aan my betaal is.

“Ons het ook geld verloor. Sowat R18 miljoen wat ons in die besigheid ingestoot het.

“Maar hierdie geld wat ons verloor het, is niks in vergelyking met wat die beneficiaries alles verloor het nie.”

’n Navraag oor hierdie tawwe tameletjie is aan verskeie DRDLR-beamptes gestuur.

Teen druktyd het nog nie een van hulle egter op Son op Sondag se navrae gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters