2 maande gelede
Plaaswerkers positief hulle sal corona-storm deursien
Staan saam: Plaaswerkers het by die Menseregtekommissie gaan praat.  ~ Peter Abrahams

GERUGTE doen die ronde dat plaaswerkers weens die corona­virus afgedank kan word.

’n Optog is onlangs by die Menseregtekommissie in Kaapstad gehou om die saak te bespreek.

Wendy Pekeur, stigter van die Ubuntu Rural Women and Youth Movement, sê hulle het gehoor van seisoenwerkers wat op ’n plaas in Stellenbosch afgedank is.

“Nog werkers op buurplase is gevra om twee weke verlof te vat en by die huis te bly,” sê sy.

Aanbevelings

Pekeur sê die Menseregtekommissie moet tussenbeide tree en dié werkers help.

“ ’n Verslag met aanbevelings is reeds in 2003 gedoen, maar ons het nog niks gehoor nie.

“Veral nou, met die corona-virus, moet ingegryp word sodat mense nie hulle werk verloor nie. Ons werkers moet beskerm word.

“Ons wil hê plaaswerkers en veral die vroue moet meer erkenning kry,” sê Pekeur.

Elizabeth Pietersen, ’n plaaswerker, sê sy en ander werkers het verlede jaar kontrakte geteken om tot volgende jaar te werk, maar hulle is Dinsdag gevra om te gaan.

“Weens die corona-virus is ons nou sonder werk en ons het nie ’n inkomste nie,” kla Pietersen.

Ronda Daniel, bemarkings-en-gasvryheidsbestuurder van die Rust en Vrede Wine Estate, sê dis nie net wynplase nie, dit raak almal.

“Ons wag almal om te sien wat die impak is. Besigheid is af, maar ons het (teen druktyd) geen werkers ontslaan nie,” sê sy.

’n Bestuurder by die Lynx Wine Estate sê besigheid is af en baie oorsese besoekers is terug huis toe. Ons wine tasting is ook af.

“Ons moet aangaan met die besigheid soos altyd en ons kan nie bekostig om enige iemand te laat gaan nie. Ons moet die storm deursien.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters