8 dae gelede
Pad vorentoe ‘word in raadsaal bepaal’
Nuwe besem: Randy Nell sê hy wil Abrahams se goeie werk voortsit.  ~ Eldridge Jason

DIE bittere stryd in die Independent Civics Organisation of South Africa (Icosa) het Vrydag ’n nuwe twist gekry toe ’n nuwe raadslid vir die Draken­stein Munisipaliteit aangestel is.

Son op Sondag het onlangs berig Jeffrey Donson se Icosa het die gewilde Alvina Abrahams as raadslid van die Drakenstein Munisipaliteit in die pad gesteek.

Dit was na bewering omdat Abrahams nie wou afkap met haar “tools of trade”-tariewe nie.

Dit is die ekstra geld wat ’n raadslid kry in die vorm van data- en airtime-geld om hulle werk te verrig.

Abrahams en Henry Syster, ’n ander Icosa-raadslid in die Thee­waterskloof Munisipaliteit, is ná dissiplinêre verhore afgedank.

Abrahams en Syster het aangedui hulle gaan die besluit in die hof beveg.

Vrydag het Randy Nell by die OVK-kantore in die Paarl se hoofstraat opgedaag om hom te registreer as die nuwe Icosa-raadslid vir die Drakenstein Munisipaliteit.

Nell was vantevore betrokke by die beweging G@tvol Capetonian.

Hy was ook die Icosa-voorsitter in die Kaapse Metro.

Hy sê hy weet ’n moeilike taak wag op hom.

“Dit is jammer dat dinge so uitgedraai het, maar ek en Alvina het nog altyd goed oor die weg gekom,” sê hy.

“My eerste taak sal wees om hierdie verhouding te herstel.

“Ek moet sê dat ek lank gedink het voordat ek die nominasie aanvaar het.”

Nell sê ook hy het tot die besef gekom dat Icosa die eintlike vehicle is om die belange van bruin mense te be­vorder.

“Ons kan buite fight en tyres brand, maar die decisions word in raadsale geneem.

“Mense sê ek is ’n politieke jintoe.

“Dit is nie waar nie, want ek was nog altyd net by een party.

“Ek hoop ek kan Alvina se skoene vol staan.

“Sy het ’n sterling werk gedoen, veral wat plaasuitsettings betref.

“Ons fight vir ons mense moet aangaan en ons moet probeer saamwerk,” is sy gevoel.

Die Icosa-lede Tanyan Gradwell, Rachel Wind­vogel en Gail Hendricks-Roberts het hulle goedkeuring uitgespreek vir die keuse van Nell as hulle nuwe raadslid.

“Randy doen nie dit vir ’n geldjie in sy agtergatsak nie; hy is hier vir sy mense,” het Gradwell gesê.

Abrahams is egter glad nie beïndruk nie.

“Ek wil nie daai olyftak van hom hê nie,” het sy kwaad gesê.

“Hy maak my en ander Icosa-lede op Facebook sleg.

“Die lede gaan hom by die munisipale bestuurder hieroor verkla.

“Ons soek nie sulke robbies in Drakenstein nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters