13 dae gelede
Ou wonde oopgekrap
gevaarlik naby: Patricia de Lille wil hê RDM se aanleg moet verder van Macassar af verskuif word.Foto: peter abrahams  ~ 

DIE ontploffing Maandag by Rheinmetall Denel Munition (RDM) is ’n tragedie wat weer ou wonde oopgekrap het vir die inwoners van Macassar.

Dis omdat ’n soortgelyke voorval 23 jaar gelede plaasgevind het: ’n Reuse-brand op 16 Desember 1995 by AECI se aanleg in Somerset-Wes.

Dis toe 16 000 ton swaeldioksied vlam gevat het by dié reuse-vervaardiger van plofstowwe en chemikalieë.

Die brand het ’n gifgas afgegee waarvan die suidooster sowat 14 500 ton oor Macassar gewaai het. Twee van die inwoners wat dit ingeasem het, is dood.

’n Inwoner wat vanweë haar betrokkenheid by familielede van die huidige ramp anoniem wil bly, sê daai tyd sal haar altyd bybly.

Sy vertel: “Ek het daai tyd by Pick n Pay gewerk en die driver van die bussie wat ons ná ons skof huis toe gevat het, het daai giftige gasse ingeasem.

“Ons het hom uit die kombi gesleep tot op die grasperk en ek het CPR op hom toegepas.

“Maar toe bloed by sy mond uitkom, het ek geweet ons kan hom nie red nie.”

Baie inwoners het op ’n gemeenskaps­vergadering Dinsdag­aand gesê hulle is besorg daaroor dat ’n plek soos RDM so naby aan hulle is.

bo-aan die lys: Die CEO van RDM, Norbert Schulze sê RDM se prioriteit is om die slagoffers se familielede by te staan.Foto: jonathan lestrade

En op ’n gedenkdiens Donderdag­aand het die burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, gesê die moontlikheid om RDM verder van Macassar af te verskuif, moet oorweeg word.

Iemand wat byna 30 jaar in diens van RDM was, sê laksheid kan die grootste risiko in sulke gevaarlike werksomstandighede wees.

Die persoon sê: “Ek het elke oggend gebid voordat ek werk toe is, want jy weet nie of jy weer huis toe sal kom nie.

Waaksaamheid

“Een van die grootste pro­bleme is dat dié mense net drie maande opleiding kry en dan moet hulle met sulke gevaarlike chemicals werk.

“En hoe meer ’n mens met dié stowwe werk, hoe meer verslap jou waaksaamheid en jy raak naderhand so gerus, jy dink jy werk met lekkers.”

Die uitvoerende hoof van RDM, Norbert Schulze, bestempel in ’n verklaring die ondersoek na die ongeluk as sensitief.

Hy vra daarom onder meer dat die media die privaatheid van die slagoffers se familielede moet respekteer.

Schulze sê: “Ons besef daar is baie vrae. Daarom is ons daartoe verbind om deursigtig te wees. Maar vir nou is ons prioriteit om na die welstand van die naasbestaandes om te sien.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters