3 maande gelede
Ou spoorloos na hy egpaar ‘flous’
desperaat: Olivia Allies sê sy kan nie glo hulle het vir Snyders se streke geval nie.  ~ 

LIEDERLIK ingedoen deur ’n ou wat hom as ’n huisagent voorgedoen het.

Brendon en Olivia Allies van die Strand kan eenvoudig net nie oor hulle ontnugtering kom nie.

Veral nie die finansiële nagmerrie waarin hulle beland het toe ’n krisis aan hulle deur kom klop het nie.

Volgens Olivia is die huis verkoop wat hulle in 2018 gehuur het.

Dit het gemaak dat hulle dringend ander blyplek moes soek, vertel sy.

“Die vrou wat die huis gekoop het, het ons Gavin Snyders se kontakbesonderhede gegee en gesê hy sal ons kan help om nuwe blyplek te kry.

“Ons het dadelik met Gavin kontak gemaak en sy woorde aan ons was dat dit nie nodig was om veel langer ’n huis te huur nie. Maar dat ons ons eie huis deur middel van rent-to-buy kon bekom.”

Olivia sê hulle het in geen stadium onraad vermoed nie.

Sy sê Snyders het heel legit voorgekom.

“Ek werk baie kere nou saam met mense in die behuisingsbedryf en alles wat Gavin gesê het, het sin gemaak.

“Hy het ons verskeie huise gewys, maar ons nooit tot binne in hierdie huise gevat nie.

“En toe ons besluit op ’n huis, moes ons verskillende bedrae aan hom betaal sodat hy die transaksie moontlik kan maak.

“Daar was altyd een of ander rede hoekom ons geld vir hom moes betaal. Toe ons sien, het ons al R28 000 aan hom betaal.”

Olivia sê die nuwe huiseienaar het druk op hulle begin sit om te trek en toe sy Snyders begin pols oor wanneer hulle in hulle huis sou intrek, het sy die skok van haar lewe gekry.

“Ons het eenkeer by ’n huis verbygery en toe was daar mense tuis.

Gedreig

“Die eienaar is ’n wetstoepassingsbeampte en toe ek hom vra of sy huis te koop is of op auction gaan, het hy dit ontken en gesê hy ken nie iemand soos Gavin nie.

“Van daai oomblik af het Gavin beloof om ons terug te betaal, maar met ’n groot gedreig kon ons net ’n R1 000 uit hom kry.

“Ons moes laas Krismis noodgedwonge by my broer gaan bly waar ek, my man en ons drie kinders almal op die sitkamer se vloer moes slaap.

“Ek wil nooit weer so ’n Krismis beleef nie.

“Gavin het ons lelik ingedoen, maar nou kry ons hom eenvoudig nie meer in die hande nie.”

Haar man, Brendon, sê hy moes die bedrae wat hulle aan Snyders betaal het, by sy werk leen.

“Daai Gavin is seep-, seepglad. Hy het selfs my baas oortuig wat gewonder het hoekom ons so baie geld moes betaal.

“Ek voel sleg en slaap nie lekker nie, want ek voel dis my skuld dat my familie so moes suffer. Die skuld waaraan ons nou nog moet betaal, is groot en hou my saans wakker.

Selfoon

“ ’n Vriend van my het Gavin in die mall sien stap met shopping bags. Hy was uitgevat met ’n vroumens aan sy arm, living his life, terwyl ek en my gesin nou nog suffer.”

Nes die Allies-egpaar, kon Son op Sondag ook nie die illusive Snyders in die hande kry nie.

Hy het eenvoudig nie sy selfoon beantwoord nie.

’n Polisiewoordvoerder, Siyabulela Malo, het bevestig dat die Allies-familie ’n klag van bedrog by die Gordonsbaai-polisiestasie aanhangig gemaak het.

Volgens Malo duur hulle ondersoek voort en is geen arrestasies tot dusver al gemaak nie. 

hof toe: Die Alliese het ook nou ’n hofgeding teen Snyders by die kleineisehof aanhangig gemaak. Foto’s: eldridge jason
G’n ANTWOORD: Die desperate couple soek na Gavin Snyders, wat nou witweg is. FOTO VERSKAF
desperaat: Olivia Allies sê sy kan nie glo hulle het vir Snyders se streke geval nie.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
6 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters