Verlede maand
Oompie lewe vir sy whisky
SY SKATTE: Die militêre veteraan is tog te opgemaak met sy groot versameling leë Vat 69-bottels.  ~ Basil Davids

MONTAGU. – Hy drink sy Vat 69 blended Scotch whisky nes water.

’n Bottel per dag – elke liewe dag wat die Here hom gee.

Die afgetrede militêre veteraan reken hy is die grootste whisky-kop in die land.

“Niemand kan by my kers vashou wanneer dit by lekker drink kom nie,” spog hy lekker hoog deur die blare.

Sy vrou wou nie hê dat haar man se “prestasies” ontbloot moet word nie en het mooi gevra dat hulle identiteit tog geheim gehou moet word.

Volgens die man drink hy Vat 69 al vandat hy skool begin bunk het.

Hy het uit die skool gedrop en hom op 16-jarige ouderdom by die destydse SAKK (Suid-Afrikaanse Kleurlingkorps) aangesluit.

Dit is ook hier waar hy geleer het om whisky te geniet, veral oor naweke.

Hy sê iewers in Kaapstad in ’n bekende smokkie het sy Vat 69 altyd gereed gestaan.

Volgens hom het ’n bottel destyds slegs R14 gekos.

Die veteraan-soldaat sê hy is nie ’n drankverslaafde nie, maar wanneer hy wakker word, moet daar ’n bottel Vat 69 op sy bedkassie staan.

“Ek geniet die bottel tot ek weer vanaand gaan inkruip,” sê die oom en lag lekker.

Volgens hom versamel hy ál sy leë bottels, want dit moet eendag saam met hom graf toe gaan.

Hy sê hy het al mooi uitgewerk hoe hy die bottels in sy graf ingebou wil hê.

Kuiergaste

Volgens hom design hy nog ’n grafsteen gemaak uit whisky-bottels wat mooi in die kerkhof moet uitstaan.

Hy sê kuiergaste staar verstom na die hope bottels wat hy vir jare al opgaar en hulle skater gedurig wanneer hy sy storie aan hulle spin.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters