Verlede maand
Oom sê hy’s ná 41 jaar weggejaag
NIE ’N SENT: Marthinus Cupido sê in sy meer as 40 jaar van plaaswerker wees, het hy nog nooit ’n sent pensioen gesien nie. Nou word daar van hom verwag om in ’n plakkerskamp te gaan bly, kla hy.  ~ Eldridge Jason

MARTHINUS Cupido (61) kan nie lees of skryf nie.

Toe hy 41 jaar gelede op die Anura Wynlandgoed buite Klapmuts begin werk het, het hy R12 ’n week verdien.

En so het die oom 18 jaar vir die eerste plaaseienaar gewerk en nie ’n kaal sent as pensioen gesien toe dié die plaas verkoop het nie.

Toe volg ’n verdere 23 jaar op dieselfde plaas vir die tweede eienaar, Tymen Bouma.

Kroos

Dinge het in 2013 liederlik skeefgeloop en oom Marthinus sê hy’s weggejaag oor hy gevra het hoekom hy moet werk as hy nog nie die vorige maand gepay het nie.

Dit was sewe jaar gelede en vandag word oom Marthinus, sy dogter, Francina Petersen (41), haar man, Chris, en hulle kroos deur uitsetting in die gesig gestaar.

Hulle vreedsame bestaan op die plaas word nou bedreig. Al wat hulle hulle hele lewe lank ken, is die rustigheid en saligheid van die plaas.

Nou wink die lewe in ’n plakkerskamp vir hulle. ’n Lewe wat hulle bang maak. Diep bang ...

“Die vorige eienaar van die plaas is nou al dood en het my nie ’n sent betaal nie. Ek sal baie verbaas wees as hy vandag in die hemel is,” sê oom Marthinus peinsend.

Volgens hom is hy onlangs opgekommandeer na ’n vergadering waar beamptes van die Stellenbosch Munisipaliteit en Bouma se regsverteenwoordigers teenwoordig was.

“Hulle wil hê ek moet uit. Plakkerskamp toe. Daar is twee Zimbabwiese families wat hulle in my huisie wil sit.

“Dít nadat ek nie eens ’n sent gesien het van ’n pensioen vir ál die jare wat ek hier op die plaas gewerk het nie.

“Ek weet nie nou wat ek gaan doen nie. Ek is ’n ou man.

“Wat soek ek in ’n plakkerskamp? Ek gaan mos nie daar survive nie.”

Die plakkerskamp waarna oom Marthinus verwys, is die La Rochelle- informele nedersetting in Klapmuts.

Francina sê sy en manlief Chris moet ook nou ’n lange gooi.

“Daar is reguit vir my gesê my pa moet by Jacob Zuma gaan aanklop vir huisvesting. Ons moet nou plek vir Zimbabwiërs maak. Sê my, doen Suid-Afrikaners dit aan ander Suid-Afrikaners?”

Chris sê hy het sy job by Anura in 2017 gelos ná ’n uitval met ’n plaasbestuurder.

Navraag

“Ek was ’n operator en toe ek nie snoeiwerk wou doen nie, het die bestuurder gesê ek moet f*k*f.

“Ek weet nou nie wat gaan ons doen nie. Moet ons met ons drie kinders in ’n plakkerskamp gaan bly?”

Bouma se regsverteenwoordiger, Erika Wright, sê oom Marthinus bly glad nie op haar kliënt se plaas nie, maar by sy dogter in Klapmuts.

Volgens Wright was oom Marthinus van 1989 tot 2013 werksaam op die plaas, maar is afgedank weens chroniese afwesigheid.

DESPERAAT: Chris en Francina Petersen sê die toekoms is in hierdie stadium baie donker vir hulle en hulle kroos.

“Mnr. Cupido het ál sy statutêre voordele gekry tot en met sy afdanking, en het nie aan ’n pensioenfonds behoort nie.

“ ’n Uitsettingsbevel is op 10 Junie 2019 in die Paarl Landdroshof toegestaan teen Chris en Francina Petersen, en almal wat saam met hulle bly.

“Hulle moes die plaas teen 31 Januarie 2020 verlaat, maar het nooit alternatiewe akkommodasie gekry nie.

“Alle partye het beraadslaag met die Stellenbosch Munisipaliteit, wat aangedui het hy kan die respondente eers oor twee maande met huisvesting help,” verduidelik sy.

Wright ontken ten sterkste dat haar kliënt se vrou ooit gesê het oom Marthinus moet vir hom blyplek by Zuma gaan soek.

’n Munisipale woordvoerder, Stuart Grobbelaar, sê hulle gaan die familie huisves in La Rochelle in Klapmuts.

“Die munisipaliteit is die mandaat gegee deur die landdroshof om te sien of ons die verhouding tussen die evictee en evictor kan herstel.”

Volgens Grobbelaar hou hulle slegs rekord van plaasuitsettings in hulle bedieningsarea, waar hulle as ’n respondent by ’n hofgeding gevoeg is.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters