17 dae gelede
Oggend- en aandpraatjies verskil in hof
LOOP HOF: ’n Man loop hof na hom na bewering voorgedoen het as die Elundini munisipale bestuurder. Foto: verskaf / ter illustrasie  ~ 

’N STAATSGETUIE se verklarings wat hy voor twee polisiebeamptes oor ’n moord in 2016 afgelê het, verskil van mekaar.

Die getuie het dié week in die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê hy het eers in die onderhoud met die tweede beampte alles onthou.

Die staatsgetuie, wie se naam nie verklap mag word nie, getuig as ooggetuie in die verhoor van 12 vermeende Terrible Josters-bendelede.

Toe die 37-jarige man as hoofgetuie gevra is hoe hy die gebeure dan kan onthou, het hy gesê dis in sy drome.

“Wanneer ek slaap, dan is dit dat die mense by my is, dan sien ek die goed in die aande,” het hy getuig.

Hy getuig oor ’n moord wat hy gesien het en twee waarby hy betrokke was.

Vloek

Volgens hom het hy 2 van die 12 beskuldigdes – beskuldigde 11, Keenan “Kapadien” Kruger, en beskuldigde 12, Lucian Consul – die dag van die moord op George Stevens in 2016 gesien.

Stevens is op of rondom 4 Februarie 2016 in Adriaansestraat in Clarke Estate, Elsiesrivier, doodgeskiet.

Gedurende ondervraging deur die staat het hy getuig hy’t nie die beskuldigdes se name geken nie, maar net geweet het hoe hulle lyk.

Hy het getuig hy het gehoor een van die beskuldigdes vloek Stevens toe dié in sy bakkie verby gery het.

Die ander beskuldige, het hy getuig, het toe voor die bakkie gestaan en op Stevens gevuur, waarna die een wat hom gevloek het, ook op die bakkie begin vuur het.

Toneel

In kruisondervraging deur die regsverteenwoordiger van beskuldigde 11 en 12 het die getuie egter gesê hy het huis toe gehardloop toe hy die skote hoor klap.

Hy het getuig hy het later terug­gegaan na die toneel van die skietery en het gesien mense was besig met Stevens.

Die regsverteenwoordiger het dit aan die staatsgetuie gestel dat hy beskuldigde 11 en 12 nie op die misdaadtoneel gesien het nie en dat hulle nie betrokke was by die skietvoorval nie.

Verder is dit aan die getuie voorgehou dat dit ’n geval van mistaken identity is, of dat hy sy hele weergawe van die gebeure opgemaak het.

Daarop het die getuie gesê: “Ek kan dit nie opmaak nie. Ek sal mos nie vir die hof lieg nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters