26 dae gelede
Nuwe huise is ’n pyn
behuising,kingston,bonginkosi madikizela
In April het die voormalige provinsiale behuisingsminister Bonginkosi Madikizela meer as 420 titelaktes aan inwoners van Kingston, Drommedaris, Lantana en Fairyland oorhandig.  ~ Ntomboxolo Makoba-Somdaka

PAARL. – Daar is niks irie omtrent dié Kingston­ Town nie.

Só kla moedelose inwoners van dié woonbuurt in die Boland oor die haglike omstandighede waaronder hulle woon.

Hop-huise wat so te sê splinternuut is, val stukkie vir stukkie uitmekaar.

Hulle klagtes by die Drakenstein-munisipaliteit val egter op die doofste van ore, moan die inwoners.

Die moedeloosheid sit vlak in hulle stem as hulle praat oor hulle frustrasies met die Hop-huise.

Die vreugdevure wat sowat ’n jaar en ’n half gelede hoog gebrand het toe hulle vir die eerste keer huiseienaars geword het, is nou geblus.

Om ná dekades op behuisingswaglyste vanuit hokke na “ordentlike” dakke oor hul koppe te trek, was vir 11 gesinne ’n droom wat waar geword het.

Maar nou het hierdie droom in ’n nagmerrie ontaard.

“Ek moet dan nou elke dag met die deure in my huis baklei om in en uit te kom,” kla Lydia Mentoor (38).

“Ons is nie ondankbaar nie, maar sommige dae kan ek nie anders as om te dink dat my lewe in ’n hok baie beter en sonder probleme was nie.

“As dit reën, stroom die water by my huis in. Die plakteëls hou nie, want die water syfer onder die vloere in.

“Die krake in my huis word pal reggemaak, maar word elke keer groter. Ek moet teen die deure skop en trap om by my huis in te kom.”

Colette Martin sê sy ken Mentoor se pyn.

“Dit is nou al so nat in my huis dat geen van my appliances­ meer werk nie.

Gesoebat

“Soms sukkel ons so om in die huis te kom weens die stram deure dat die kinders deur die vensters moet kruip.

“Die council het ons gesoebat om nie koerante toe te gaan nie, maar ons kan mos nie só lewe nie. Wie wil dan só lewe?”

Oom August Wildschut (61) het vertel hy was langer as 20 jaar op die behuisingswaglys.

“Kyk, ek was baie opgewonde oor hierdie nuwe huis.

“Ons moes haastig en vinnig intrek, want die skollies het die huise gevandaliseer. Toe trek ons sommer in met skade en al aan die huise, maar die council het beloof hulle gaan die skade herstel.

“Dis nou al ’n jaar en ses maande en daar het niks van hierdie beloftes gekom nie. Die reën maak en doen met ons net wat hy wil. Water stroom oral in. Ek is veral geworry oor die water wat so naby die kragboks invloei.

“Oor die muf wil ek nie eens praat nie, want hier is nie ventilasie in die huise nie. Op my oudag sit ek nou met hierdie probleme opgeskeep.

“Ek gaan gereeld by die council kla, maar niks word aan die probleme gedoen nie.”

Godfrey Martin (49) was ook 20 jaar op die waglys en het gesê sy huis is nou vir hom een groot pyn. Volgens hom het hy een stukkende deur wat nooit vervang is nie, “gefix” deur ’n ou mikrogolfoond voor dit te sit.

“Ek slaap nie lekker in hierdie huis van my nie. Ek is onder hospitaalbehandeling en hierdie omstandighede waaronder ek moet bly, is nie goed vir my nie.”

Gerald Esau, waarnemende uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste van die Drakenstein-munisipaliteit, sê hulle is bewus van die probleme by die Kingston Town-behuisingsprojek.

“Gure weersomstandighede het dit die laaste ruk moeilik gemaak om dié probleme aan te spreek, veral om die huise waterdig te maak.

“Die munisipaliteit is daartoe verbind om dié probleme aan te spreek.

Leefbaar

“Omdat daar aanhoudend vandalisme was, is die begunstigdes versoek om solank in te trek terwyl hulle daarvan bewus was dat alles nog nie voltooid is nie.

“Die munisipaliteit het basiese werk uitgevoer om te verseker dat die huise solank leefbaar sou wees, met die idee om later die ander probleme of tekortkominge aan te spreek,” het Esau gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters