26 dae gelede
Nuwe baas aan die stuur by SBIDZ
nuwe besem: Kaashifah Beukes is ’n vrou met ’n visie vir die ganse Saldanhabaai, Wes-Kaap en die hele land. FOTO VERSKAF  ~ 

DIE Saldanhabaai-nywerheidsontwikkelingsone (SBIDZ) het ’n nuwe baas.

Kaashifah Beukes is die nuwe bedryfshoof van die SBIDZ, wat in 2013 aangewys is as die eerste spesiale ekonomiese sone (SEZ) wat in ’n hawe geleë is.

Die groot doel agter die SBIDZ is om ’n miernes van bedrywig­heid te wees rondom ekonomiese moontlikhede, werkgeleenthede en volhoubare groei in die Wes-Kaap en Suid-Afrika.

Die Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, David Maynier, sê opwindende tye wag op die SBIDZ met Beukes se aanstelling omdat sy haar eie, unieke bestuurstyl en ’n skatkis van relevante ervaring na die organisasie bring.

Beukes het voorheen vir ’n tydperk van 18 maande tydelik in die pos waargeneem.

Sy is sedert die SBIDZ se registrasie as ’n staatsbeheerde maatskappy in 2014 by die maatskappy betrokke.

Sy was tussen 2010 en 2014 een van die SBIDZ se leidende projekbestuurders vir ’n volhoubaarheidstudie en die ontwikkeling van die besigheidsplan.

Bestemming

Sy moes skakel met plaaslike gemeenskappe en belangegroepe in die privaat sektor.

Sy het ’n belangrike rol gespeel in die identifisering van Saldanhabaai as ’n bestemming van die SEZ.

Sy het ook voorheen gepraktiseer as siviele ingenieur vir ’n private konsultasiemaatskappy in Kaapstad.

“Dit is vir my ’n groot eer om in hierdie amp verkies te word.

“As ’n SEZ is dit ons taak om uitvoering te gee aan die visie van ’n groeiende en vooruitstrewende Suid-Afrikaanse ekonomie.

“Ek sien vir die volgende vyf jaar daarna uit om die SBIDZ ten volle operasioneel te kry, terwyl ons ook verder streef na ekonomiese groei en die skepping van werkgeleenthede – plaaslik, sowel as in die streek.”

Beukes, ’n boorling van Port Elizabeth, het ’n BSc-graad in siviele ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad (UK) verwerf.

Sy’t ook ’n Magister in Bedryfsadministrasie (MBA) aan die UK se Besigheidskool verwerf.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters