Verlede jaar
Namas vies oor ‘wit dorp’
ongelukkig: Dié dorpie het Namakwalanders warm onder die kraag. Foto: ISAAC CLOETE  ~ 

’N SOGENAAMDE wit veiligheidsdorpie naby die Groenrivier het die inwoners hier rooi van woede.

Hierdie landsvreemde skepping, Eureka, is die breinkind van die berugte en bekende kubus-koning van weleer, Adriaan Nieuwoudt.

Dit is geleë by die mond van die Groenrivier, naby Garies in Namakwaland, en is uitsluitlik vir wit mense bedoel.

Nieuwoudt sê: “Weens die onhoudbare toestand wat blankes in Suid-Afrika beleef en die vrees waaronder hulle dag en nag moet leef, het ek my plaas beskikbaar gestel vir enige persoon wat in hierdie groep geïdentifiseer is.

“Om alles hier te orden, het ek ’n maatskappy gestig waarin almal van hierdie groep aandele kan hê.

“Elke lid wat hier wil kom woon en werk, moet slegs sy eie woning laat oprig.

“Weens die hewige teenstand wat ek onlangs op ’n radiostasie en van die meerderheid ‘anti-blank-inwoners’ van Suid Afrika ervaar het, het ek besluit om geen verdere kommentaar van enige aard namens myself en namens die maatskappy te lewer nie.”

Volgens hom is Eureka nie ’n gewone dorpstigting nie – wat hersonering vereis – maar “die reg van die blanke kultuur” en “mense wat hul reg op lewe en assosiasie gesamentlik hier wil kom uitoefen”.

Verder beroep hy hom op die Grondwet van Suid-Afrika soos aangeneem op 8 Maart 1996 en gewysig is op 11 Oktober 1996.

Pers

Hy sê daaroor: “Kyk na die hoogste reg in die land en verstaan waarom Eureka Beperk se lede, wat hier hul reg op lewe kom beskerm, se huise nie afgebreek mag word nie. Alle reëls en regulasies is onder­hewig hieraan.

“Ook saamgelees met artikel 235 van ons Grondwet.”

Intussen het Eureka geweldige reaksie uitgelok in die pers en sosiale media. Baie vergelyk dit met Orania en skree ten hemele.

Reginald Hearne, ’n plaaslike taxi-eienaar, het verontwaardig ­gesê: “Hierdie is ’n wit rassistiese dorp met geen ekonomiese voordeel vir Garies nie.

“Hier word die bruines geslaan en boonop op Facebook uitgekryt as ‘honger kleurlinge wat skaars werk’.”

Paulus Swartbooi van die Boesman-San-groep sê bitsig: “Daardie mense wil nie hoor nie.

“Namaland sal hulle wys.

“Namaland sal hulle van haar rug af bliksem!

“Laat die stof staan ...”

Archie Jansen, ’n besorgde in­woner, wil lekker boos weet: “Nou waarom stel jy ook nie ’n stukkie grond beskikbaar vir die plaas­werkers nie?”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters