16 dae gelede
‘Money-grabbers’ moet hof toe
Hof toe: Duisende mense sê hulle soek justice.  ~ 

VERBEEL jou iemand bel jou en bied jou ’n lening aan, maar sonder dat jy ’n sent daarvan kry, kry jy lawyers letters.

Dit is hoe honderde mense reg oor die land hulle na bewering lelik vasgeloop het met Loan Zone SA en Loan Tracker SA.

Baie van die mense het hulle lot by Hello Peter bekla terwyl ander hulle na die Universiteit Stellenbosch se Regskliniek gewend het.

Die Regskliniek het op 13 September namens ag van sy kliënte ’n klas-aksie by die Kaapse hooggeregshof ingedien teen alle maatskappye wat met die naam Lifestyle Legal verband hou.

Die US Regskliniek voer aan die maatskappye se modus operandi blyk om lenings en/of gratis leningsverkrygingsdienste te bied.

Dan oorreed hulle mense na bewering om “ooreenkomste” vir ongevraagde dienste aan te gaan en begin dan onmiddellik geld uit hulle bankrekeninge te trek.

Wanneer die verbruikers dit regkry om die aftrekkings te laat stop, kom Lifestyle Legal in.

Ingeloop

Volgens die US Regskliniek dreig en teister hulle die verbruikers en laat hulle blacklist.

Die lot wat met die scam ingeloop is, het ook ’n Facebook-blad, Action Against Lifestyle Legal, Legal Loan Hub SA and other scams, begin.

Een van die mense sê sy kan nie wag dat die “money-grabbers” hulle dag kry nie.

Wat die meeste mense die herrie in maak, is dat die maatskappy dit reggekry het om hulle te blacklist as hulle die onwettige debietorders laat reverse.

Ene Lee sê as dit gebeur, moet mense die kredietburo nader.

“Die buro is bewus van hulle onwettighede. Onthou, jy skuld nie die mense enige geld nie en hulle het geen diens aan jou verskaf nie.”

In die hofaansoek versoek die applikante ’n interdik wat die respondente beveel om die betrokke webwerwe te sluit en hulle weerhou om geld van mense se bankreke­ninge af te trek.

Die applikante vra ook dat alle geld wat onwettig uit hulle bankrekeninge getrek is, aan hulle terugbetaal word en dat hulle vergoed word vir die verliese.

Prof. Theo Broodryk, hoof van die Regskliniek, verduidelik: “Die sertifisering van ’n uittree-klas-aksie help dat die duisende kwesbare verbruikers wat vermoedelik deur die maatskappye uitgebuit is, toegang tot geregtigheid kry.”

Lifestyle Legal en sy betrokke maatskappye het nie op Son se e-pos gereageer nie. Toe hulle met ’n oproep genader is, wou hulle geen kommentaar lewer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters