6 dae gelede
‘Mens is nooit te oud om te leer nie’
klastyd: Ashraf Cassiem wil mense met hul regte help. Foto verskaf  ~ 

’N MAN (51) van Tafelsig in Mitchells Plain wat vir die eerste keer in sy lewe verder studeer, is tans in sy tweede jaar aan die Universiteit van Kaapstad (UK), waar hy regte swot.

Vir so lank as wat hy kan onthou, is Ashraf Cassiem betrokke in die gemeenskap.

Cassiem sê hy het twee jaar gelede besluit om verder te studeer.

“Ek het altyd ’n liefde vir law gehad, want oor die jare het ek baie mense gehelp wat uit hul huise gesit is. Baie prokureurs is duur, maar ek wil mense help wat dit nie kan bekostig nie. Sodra ek klaar gestudeer het, wil ek my gemeenskap help met gratis regsdienste.

“Om verder te studeer was ’n groot stap vir my en veral by ’n plek soos die Universiteit van Kaapstad.

Trots

“Ek is ook baie dankbaar teenoor die mense wat met befondsing gehelp het sodat ek verder kon studeer.

“Die eerste dag toe ek vir klas opdaag en sien die meeste van die ander studente is jonger as ek, was ek nogal ongemaklik.

“Ja, mense wil aanhoudend weet hoekom ek gaan studeer het op my ouderdom. Maar ek dink nie ’n mens is te oud om te leer nie.

“Om in die regte te gaan studeer was altyd iets wat ek wou doen.

“My oorlede ma, wat ook ’n gemeenskapswerker was, sou so trots gewees het. Dit was altyd haar droom dat ek verder moet studeer.”

Weens Covid-19 is alle klasse by die UK opgeskort en Cassiem moet sy klasse aanlyn doen. Hulle kry ook baie take wat op papier gedruk moet word, maar omdat hy nie ’n printer het nie, sukkel hy.

“As daar enige een is wat my met ’n printer kan help, sal ek dit waardeer,” sê hy.

Mense wat kan help, kan hom by 067 778 8820 kontak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters