Verlede maand
Meneer in die ‘vrou-wêreld’
almal saam: Slade Damon is een van die min manlike grondslagfase-onnies in die Wes-Kaap.  ~ 

DIS nie aldag dat jy by ’n grondslagfase-klas inloop en ’n meneer sit plat op die grond en lees ’n storie vir die gr. 2’tjies nie.

Ouers van kinders in ’n gr. 2-klas by Golden Grove Primêr is dié week onkant gevang toe hulle hulle kroos vra wie hulle juffrou is, en hoor dis ’n man.

Slade Damon (28) is die afgelope vier jaar by vier verskillende skole ’n onnie op kontrak.

Damon sê: “My passie is om met kinders te werk, ’n rolmodel vir hulle te wees en ’n positiewe impak op hulle te maak.”

Damon is gebore in Colorado Park, Mitchells Plain. Sy ouers het na Ottery verhuis waar hy met sy suster grootgeword het.

Hy het sy skoolloopbaan by die Laerskool Turfhall begin en by die Hoërskool Livingstone geëindig.

Hy vertel sy pa, wat 22 jaar lank ’n skoolhoof in Mitchells Plain was, het hom gemotiveer om die beroep te oorweeg. Tog het hy nie onderwys gaan studeer nie.

“Ek het eintlik ’n graad in maatskaplike ontwikkeling, en dit was tydens my studies dat ek my liefde ontdek het om met kinders te werk, veral in vroeëkinderontwikkeling,” vertel Damon.

Buig

“Die kinders in baie van ons gemeenskappe raak groot en sien altyd net die twee opsies van drugs of gangsterism. Ek wou dit verander.”

Dis die spreekwoord “buig die boompie terwyl hy nog jonk is” wat dié meneer laat besef het gr. 5 en hoër is half te laat om verandering mee te bring.

Damon vertel: “Die ontwikkeling van ons kinders is belangrik. Wat my gelukkig maak, is om te sien dat kinders ’n goeie, solid fondasie het.

“Ons almal weet die vormingsjare van geboorte tot nege is belangrik.”

In sy eerste jaar was hy by die Laerskool Yellowwood in Tafelsig met ’n gr. 3-klas.

Van daar is hy na die Laerskool Mandalay, waar hy in sy eerste jaar ’n gr. 2- en tweede jaar ’n gr. 1-klas gehad het.

Voordat hy hom vanjaar by die Laerskool Golden Grove aangesluit het, was hy by die Laerskool Buck Road, waar hy ook ’n gr. 1-klas gehad het.

Die tradisie was maar nog altyd dat ’n juffrou voor jou gr. R- tot ongeveer gr. 4-klas staan – wat dit ongewoon maak om ’n meneer voor agjariges te sien sit en inkleur.

Damon reken dit is oor die verwagting dat kinders die moeder­figuur nodig het.

Hy sê: “Dis belangrik dat kinders ’n solid manlike en vroulike figuur by die huis sien, maar ook in die skool, want dít is wat ’n gesin is.

“Ongelukkig in Suid-Afrika het ons dit nie. Dalk oor mans voel hulle wil nie wees waar die mammie is nie.”

Debbie Schäfer, die Wes-Kaapse minister van onderwys, sê grondslagfase-onnies het ’n groot impak op sulke jong leerders.

Schäfer sê: “Hulle is die grootmense saam met wie die kinders in so ’n belangrike fase in hulle ontwikkeling baie tyd deurbring.

“Om positiewe rolmodelle te hê, maak ’n groot verskil in ’n leerder se maatskaplike ontwikkeling.”

Sy sê ongelukkig skiet kinders in baie gemeenskappe te kort aan manlike rolmodelle.

“Jong kinders wend hulle tot bende-aktiwiteite omdat daar nie verantwoordbare manlike rol­modelle is na wie hulle kan opkyk nie,” sê Schäfer.

Bekommerd

“Manlike grondslagfase-onderwysers kan ’n positiewe manlike invloed op seuns en meisies hê en bydra tot hulle maatskaplike ontwikkeling.

“Ons moet eintlik bekommerd wees dat daar nie meer manlike grondslagfase-onderwysers is nie.”

Damon, wat heel gemaklik op die mat voor sy klas sit, sê: “Ek poog maar net om deur opvoeding ’n positiewe impak in die klaskamer te maak.”  

goeie voorbeeld: Slade Damon reken kinders kort ook manlike rolmodelle.Foto’s: Melinda Stuurman
UITDAGING: Damon sê vroeë-kindontwikkeling is belangrik vir hom, daarom sal hy selfs graad 1 en graad 1 klas gee.
VERANDERING: Slade Damon pose­ met Dawn Petersen, wat die eerste vrou­like skoolhoof by Laerskool Golden Grove is.
IMPAK: Dis vir Damon belangrik om die boompie te buig terwyl dit nog jonk is.
almal saam: Slade Damon is een van die min manlike grondslagfase-onnies in die Wes-Kaap.
Laerskool-geslag verdeling per distrik

In die Wes-Kaap is daar 15372 onnies van wie 74.64% of 11473 vroue en 3899 mans is.

Per distrik is dit:

  • Kaapse Wynland: 2273 van wie 1578 vroue en 695 mans;
  • Eden en Sentraal Karoo: 1855 van wie 1298 vroue en 557 mans;
  • Overberg: 742 van wie 539 vroue en 203 mans;
  • Weskus: 1059 van wie 768 vroue en 291 mans;
  • Metro Sentraal: 1829 van wie 1413 vroue en 416 mans;
  • Metro Oos: 2683 van wie 2049 vroue en 634 mans;
  • Metro Noord: 2349 van wie 1810 vroue en 539 mans;
  • Metro Suid: 2582 van wie 2018 vroue en 564 mans
Ander manlike grondslagfase-onnies

Van die 15,372 laerskool onderwysers in die Wes-Kaap is slegs 0.5% oftewel 51 manlike grondslagfase-onnies.

Die syfer kan, weens laat registrasies wat nog geakkommodeer moet word, verander.

Bronagh Hammond, 'n woordvoerder vir die WKOD, sê: "Tradisioneel kies manlike onderwysers maar intermediate, senior en FET-fases." 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters