7 dae gelede
Marais van VF+ kap DA oor beloftes
Peter MaraisFoto: JONATHAN LESTRADE  ~ 

DIE DA is nie daartoe in staat om sy beloftes aan die Wes-Kaapse kiesers ’n realiteit te maak nie.

Só het Peter Marais, die VF+ se provinsiale premierskandidaat, Vrydag gesê.

Marais sê hy’s bly die VF+ gaan vir die eerste keer in die land se 25 jaar oue demokrasie in die Wes-Kaapse wetgewer verteenwoordig wees.

Hy sê sy organisasie, die Bruin Bemagtigingsbeweging (BBB), het ’n groot rol in die sukses van die VF+ gespeel.

Volgens hom kon die VF+ meer stemme in die Wes-Kaap gekry het as dit nie vir die DA se bangmaakstorie was dat die ANC dié provinsie sal regeer as hulle vir kleiner partye stem nie.

Begroting

Marais voeg by: “Die DA is nie eens in staat om self die beloftes wat hy aan die kiesers gemaak het, ’n realiteit te maak nie.

“Die DA as provinsiale regering het nie die begroting of die mag om iets aan die polisiediens of die spoorwegdienste te doen nie.

“Hy moet die ANC se nasionale regering soebat om geld te kry.

“As die DA slim was, moes hy besef het hy sal weer met die ANC moet onderhandel om die beloftes te vervul wat hy aan die mense gemaak het.”

Marais sê hy sal binnekort met die VF+ se leier, dr. Pieter Groenewald, en die voormalige leier, dr. Pieter Mulder, vergader om ’n strategie uit te werk oor hoe dié party as ’n opposisieparty in die Wes-Kaapse wetgewer te werk sal gaan.

Hy hou vol: “Ons sal ’n stem wees vir die minderheid. Vir die Afrikaanssprekendes. Vir mense met Christelike waardes.

“Ons sal met ander partye saamwerk om ons doelwitte te bereik.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters