16 dae gelede
Mamre-manne huur plaasgrond
Kleinboere: Ronald Arendse, Marco Vraagom, Conrad Liedeman en Gerald Loock met hulle sertifikate.Foto: STAD KAAPSTAD  ~ 

GESKIEDENIS is gemaak toe vier kleinboere van Mamre huurooreenkomste geteken het.

Dit maak ook die deure oop vir meer ekonomiese geleenthede.

“Dié positiewe stap deur die Mamre Communal Property Association (MCPA) bied meer geleenthede om ekonomiese voordele te kry en werk te skep,” het Wilfred Solomons-Johannes, voorsitter van die MCPA, gesê.

Volgens Solomons-Johannes is die ontvangers van die kontrakte baie tevrede met die huurooreenkomste, want dit maak nuwe deure oop.

Die eerste vier kleinboere van Mamre wat die ooreenkomste vir gemengde boerdery geteken het, is Ronald Arendse (4 hektaar), Marco Vraagom (2 hektaar), Conrad Liedeman (104 hektaar) en Gerald Loock (5 hektaar).

“Dis ’n geleentheid om op die voorgrond te wees en die grond wat aan die gemeenskap van Mamre teruggegee is, optimaal te benut.

Aansoeke

“Die grond is in die verlede deur wette van rassediskriminasie weggevat.”

Hy sê die MCPA is daartoe verbind om die gemeenskaplike grond tot voordeel van Mamre te gebruik.

Altesame 58 aansoeke van Mamre se grondhervorming is ontvang om die gemeenskaplike grond te huur vir gemengde boerdery. Die aansoeke word deurgegaan en daar sal met die aansoekers gepraat word.

Die huurkontrakvoorwaardes is onderhewig aan sekere voorskrifte wat voorbehou is in die ooreenkoms.

’n Huurtydperk van 9 jaar en 11 maande word toegestaan. Die “meentgrond” beslaan sowat 4 254 hektaar en is op 15 Junie 2013 deur die nasionale regering aan die gemeenskap van Mamre teruggegee.

Die MCPA is op die been gebring en geregistreer in terme van die Wet op Verenigings vir Gemeenskaplike Eiendom, Wet no. 28 van 1996.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters