7 dae gelede
Lee-Shane op pad Parys toe om die Plain te gaan represent
inspirasie: Lee-Shane Booysen wil die wêreld aan die brand dans.  ~ 

DIE wêreld is nou sy dansvloer.

Lee-Shane Booysen (28) van Lentegeur in Mitchells Plain is ’n man op ’n missie.

Hy is onlangs as die beste danser in die land gekroon toe hy die Red Bull Dance Your Style-kompetisie gewen het.

En hierdie is nie sommer ’n hier-jy-kompetisie nie.

Lee-Shane gaan Suid-Afrika nou by die Dance Your­ Style – World Final verteenwoordig.

Dit vind op 12 Oktober in Parys plaas. En dis nie die Vrystaat se Parys nie, mind you!

’n Baie verheugde maar steeds nederige Lee-Shane sê die dans-gier het hom al op ’n jong ouderdom beet­gekry.

“My liefde vir dans kom van my ouma wat in haar dae ’n ballroom-kampioen was.

“Toe my suster, Chevonne, jare gelede in die dansgroep van ons kerk was, het die nuuskierigheid my geprikkel. En toe ek sien waarmee hulle besig is, wou ek met alle mag ook dans.”

Lee-Shane sê hy het in 2007 professioneel begin dans.

Dit het harde werk gekos, maar in 2015 het die dansvloere vir hom oopgegaan toe hy die World Dance Masters-kompetisie in Kroasië gewen het.

Hy was agterna ook te sien in die dansflieks Honey 3 en Bring It On 6.

“My sukses is te danke aan baie mense wat my leiding gegee het,” sê hy.

“Daar is vandag amper nie ’n style wat ek nie kan dans nie.

“Pantsula, bhenga, contemporary, break­dancing... Ek is dankbaar aan almal wat op my pad gekom het en wat my van hulp was.”

Maar wat kan die res van die wêreld in Oktober van hom verwag?

“Die ander finaliste is wêreld­bekend en hoef hulself seker nie meer te bewys nie, maar ek wil Afrika op die map plaas.

“Ek is van Afrika en wil met ons dansstyle wys waartoe ek in staat is,” sê hy vol selfvertroue.

Maklik is dit beslis nie. Vra maar net vir Lee-Shane.

Hy moet elke dag oefen om sy danspassies te verfyn – moves wat die nek van ander gewone ouens op straat sal breek.

“My community is my gym,” vertel hy. “Ek oefen elke dag hier in my straat. Maak nie saak of die son skyn en of dit reën nie. Ek oefen sommer tussen die karre deur.”

Red Bull is om kommentaar genader oor Lee-Shane se prestasie en oor hoe hulle voel oor hom wat die land op die internasionale dansverhoog gaan verteenwoordig.

’n Ontvangsdame by Red Bull se hoofkantoor in Seepunt het egter neusoptrekkerig gesê hulle praat net met “sekere” media.

“Stuur maar jou navraag deur, maar ek kan nie waarborg dat ons van hulp sal wees nie,” het sy in ’n sturvy stemtoon gesê. 

ÁL DIE MOVES: Lee-Shane wil die ganse kontinent trots maak op hom. FOTO VERSKAF
inspirasie: Lee-Shane Booysen wil die wêreld aan die brand dans.
meester: Lee-Shane het stof in ál sy mededingers se oë gedans om die SA titel te wen.Foto’s: MELINDA STUURMAN
Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters