7 dae gelede
Landdros boos vir ondersoekbeamptes
GATVOL: Die inwoners betoog voor die Hopefield Landdroshof.  ~ George April

HOPEFIELD. – Twee cops wat eers toegekap is op ’n klag van moord, gaan nou Krismiskoek in die tronk eet.

Die cops, Nigel Sifile en Theron Phatisiwe (albei 39), het dié week ’n aansoek om borgtog gebring in die plaaslike landdroshof.

In ’n dramatiese wending is die moordklag Woensdag verander tot een van strafbare manslag.

Aangevoer

Son het vroeër berig oor die twee polisielede wat aangekla is vir die moord op die 35-jarige Reginald Linnerd.

in die bail-aansoek het die ver­dediging aangevoer daar is ’n komplot teen hulle kliënte om hulle te frame vir die moord.

Landdros Henry Brown het die ondersoekbeamptes gekap oor hulle gebrekkige bewyse vir ’n klag van moord.

Brown het gesê: “Dis baie gevaarlik om mense aan te kla vir moord as jy nie genoegsame bewyse het nie.

“Die patoloog se forensiese verslag het alles aan die saak verander.

“Die staat kan wel bevestig dat daar drie getuies is wat die twee beamptes verbind met die ernstige aanranding op Linnerd.

“Die hof sit dus die moord om in strafbare manslag, en die hof staan ook nie borgtog teen nie.

“Die hof het ook nie ’n probleem met gewone borgtogaansoek nie omdat die beskuldigdes nie ’n gevaar vir die getuies of gemeenskap inhou nie.”

Die landdros het voortgegaan en gesê die polisie is nie daar om mense aan te rand nie.

Brown het gesê: “Volgens die forensiese verslag was Linnerd se hande agter sy rug geboei tydens sy wrede aanranding.

“Hy was oral aangerand– sy voorlyf, agterlyf, bene, kop. Daar was nie ’n plek waar die oorledene nie geslaan was nie.

Betrap

“Die mate van geweld wat gebruik was in die aanval, kan lei tot sterftes.

“Dit kan genoem word marteling in aanhouding.”

Hy het die verdediging onkant betrap toe hy sê daar is nie bail nie en dat die beskuldigdes in aanhouding bly totdat die hofsaak klaarmaak.

Die saak is uitgestel tot 10 Januarie.

Reginald Linnerd

Anna Linnerd, ’n auntie van die slagoffer, het haar dank teenoor die staat uitgespreek.

Sy sê: “Die familie is tevrede met die uitspraak.

“Nou sal ons maar wag totdat die hofsaak begin.”

Son het vanaf 2009 reeds berig oor beweerde polisiewreedheid in dié dorp.

Die cops en departement van gemeenskapsveiligheid het bly belowe dat hulle dit sal ondersoek.

Ondanks dié beloftes het daar nog dadels van gekom.

Dinsdag het gemeenskapslede ’n optog na die hof gehou om hulle misnoeë met die gereelde aanrandings te toon.

In Desember 2011 is Eben Cleophas (toe 38) so erg aangerand, dat ’n plaaslike arts, dr. Riaan Swarts, gesê het die sinnelose aanvalle het nou net te ver gegaan.

Niks

Sylvia Jansen het Dinsdag ook haar stem laat hoor omdat sy na bewering in Oktober 2017 ook ’n cop-slagoffer was.

Daaroor het Jansen uitgevaar: “Hoewel ’n kolonel daarna by my was, het daar niks van daai saak geword nie.”

Erwee Prokureurs se kantoor het Donderdag weer bevestig dat hulle meer as 20 siviele eise van beweerde polisie-aanrandings net in dié dorp hanteer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters