14 dae gelede
Laitie geboelie totdat hy klomp pille gesluk het
SLAGOFFER: Die seun het ’n oordosis pille gesluk omdat hy genoeg gehad het van die genadelose afknouery.  ~ Foto Verskaf

GEBOELIE. Verneder. Tot selfmoord ge­dryf...

Dit is die lot van ’n gr. 9-leerder van Hoërskool New Orleans in die Paarl.

Die 14-jarige seun is so getraumatiseer ná ’n jaar gevul met boelies dat hy ’n oordosis pille gesluk het.

Sy identiteit is bekend aan Son op Sondag, maar ons weerhou dit om hom ’n verdere gespot en moontlike viktimisering te spaar.

Daar moes inderhaas met hom na die Paarl Hospitaal gejaag word.

Hy is die afgelope twee weke in ’n Kaapse hospitaal waar hy fyn dopgehou word.

Die laaste strooi was verlede maand toe sy rekenaar-onnie hom na bewering voor die girls wat hom al heeljaar afknou, deur die gesig geklap het.

Die seun se antie sê sy kon slange vang toe sy van die klap-voorval hoor.

Sy sê: “Ek was beslis nie lekker hieroor nie. Dit het gevoel asof ek die meneer aan die keel kan gryp en wurg.

“My susterskind is baie saggeaard en het niks terug gesê toe die meisies hom so afknou nie.

“Hulle het hom gespot dat hy ’n boemelaar en vuil is.

“Verlede maand wou hy hê sy onderwyser moet hom touwys maak oor ’n rekenaartaak, maar die onnie het nie tyd vir hom gehad nie.

“En toe die periode verby was en sy taak was nie klaar nie, het die onderwyser hom deur die gesig geklap.

“Dít voor die meisies wat hom al die hele jaar verneder. Dit was die laaste strooi.”

ONMENSLIK: Raadslid Alvina Abrahams sê mense moet ophou neergekyk op plaas­kinders.

Die antie sê die dokters is nou baie bekommerd oor sy gemoedstoestand.

Sy sê: “Die dokters wil glad nie hê hy moet nou teruggaan na die plaas waar hy bly nie.

“Al wat die onnie vir my gesê het, is dat hy jammer is.

“Maar wat baat jammer dié arme kind wat verneder is en wie se vel van sy gesig afgetrek is?

“Ons gaan dinge egter nie so los nie. Ek gaan my suster oorreed om ’n saak by die polisie aanhangig te maak.”

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), sê die beweerde voorval is vir verskeie redes uiters kommerwekkend.

Hammond sê: “Die betrokke onderwysdistrik het bevestig hulle is bewus van die voorval en hulle het dadelik daarmee gedeal in terme van die WKOD se Abuse No More-protokol.

“Die WKOD se arbeidsverhoudinge-afdeling het ook bevestig hulle is oor so ’n voorval ingelig en ’n ondersoek is aan die gang.”

Alvina Abrahams, ’n plaaslike raadslid, is bekend vir die werk wat sy onder die plaaswerkers­gemeenskap doen.

Volgens Abrahams is die onnie se beweerde gedrag ’n skreiende skande.

’n Baie ontevrede Abrahams sê: “Omdat daardie kind op ’n plaas bly, maak dit nie van hom minder mens, minder leerder as die ander kinders nie.

“Veels te dikwels word plaas­kinders nog gespot en daar is niks moois aan dit nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
4 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters