29 dae gelede
KYK: Laaste draai op Nuweland
OULAAS: Chester Williams se liggaam word by sy geliefde Nuweland ingedra.Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

NUWELAND se liefling het sy laaste draai daar gaan gooi.

Die Springbok-vleuel Chester Williams is gister vanuit sy gunsteling-rugbystadion begrawe.

Williams (49) se skielike dood aan ’n hartaanval so ’n bietjie meer as ’n week gelede het die land geskok.

Honderde mense het gister na die land se mekka van rugby gestroom om hulle laaste eer aan die legendariese Bok-vleuel te betoon.

Onder hulle was Chester se ou spanmaats van 1995 se seëvierende Wêreldbeker-rugbyspan. Manne soos Francois Pienaar, Joel Stransky en André Joubert, asook Patricia de Lille, ’n persoonlike huisvriend en huidige minister van openbare werke, Nathi Mthethwa, minister van kuns, kultuur en sport, en die Wes-Kaapse premier, Alan Winde.

Williams was ten tyde van sy dood die afrigter van die Universiteit van Wes-Kaapland se rugbyspan. Sy spelers het gister vir hom ’n erewag gevorm.

Die sangeres PJ Powers, wat die land in 1995 in vervoering gehad het met haar weergawe van “The World in Union”, het hierdie ikoniese lied aan Chester opgedra.

Alle sprekers was dit eens: Al was Chester ’n eerste vir rugby in terme van die eerste speler van kleur wat die Bok-span ná die koms van ons demokrasie verteenwoordig het, was hy ’n nederige mens wat agter die skerms baie vir sy medemens gedoen het.

Morné du Plessis, bestuurder van 1995 se Bok-span, het Chester as ’n uitsonderlike speler beskryf.

“Chester was ’n talentvolle, dapper speler en die ontslape afrigter, Kitch Christie, was baie lief vir Chester se dapperheid.

“Die land sal Chester beslis nooit vergeet nie. Hy was geheel en ál ’n ordentlike man.”

Chester se lof is behoorlik besing.

Nie net het hy sy land met lof vanaf 1993 tot 2000 op die rugbyveld verteenwoordig nie, maar nadat hy sy rugbystewels opgehang het, het hy die Springbok-sewesspan afgerig, sowel as spanne in Roemenië, Tunisië, Uganda en Kroasië.

Dit was Dan Dinu van die Timi?oara Saracens in Roemenië wat tydens die begrafnis met groot agting gepraat het van die wonders wat Chester in twee jaar by hulle verrig het.

“Chester was nie net my vriend nie. Hy was my broer.

“Dit was danksy hom dat ons vir die eerste keer in 40 jaar die rugby­titel in Roemenië kon wen.

“Hy is ’n legende en al het hy vele geïnspireer om ook champions te word, het hy nederig gebly.

“Baie het Chester die Black Pearl van die Bok-span genoem, maar hy was die shining light vir die hele nasie.”

Pete Gottgens, Chester se sakevennoot wat in samewerking met die Bok-legende die bier Chester’s Lager die lig laat sien het, was baie emosioneel toe hy oor Chester praat.

“Chester het nie net gesê hy gaan mense help nie, hy het dit ook gedoen.

“Sy (Chester se) bier, is die eerste Suid-Afrikaanse bier wat ooit na Japan uitgevoer word.”

Mthethwa het Chester op sy beurt bedank vir die rol wat hy nie net in rugby gespeel het nie, maar ook in die opbou van die nasie.

“Dinge was nie maklik vir Chester nie. Daar was baie struikelblokke.

“Daar was ’n klomp dinge wat die pad na sukses vir hom moeilik gemaak het, maar hy het vasgebyt.

“Chester kon nie soos die res van sy wit spanmaats aan die begin die kleedkamers gebruik nie en moes op die bus aantrek.

“Hy was egter iemand met ’n droom en het nie geskroom om daarvoor te werk nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
4 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters