26 dae gelede
Kyk, Lyntjie Jaars babbel mos nou éérs
praterig: Lyntjie Jaars maak nou naam op die kassie. FOTO verskaf  ~ 

“JY IS soos ’n draadloos wat nie afsit nie en alewig net wil praat.”

Só het Marilyn “Lyntjie” Jaars se mammie haar as kind probeer stil hou. Of was dit ’n “stille” aanmoediging dat sy eendag hoër hoogtes in die mediawêreld sou bereik?

Ná hierdie vermaning het sy egter eers ’n wye draai geloop voordat sy onlangs ’n lekker TV show by die gewilde televisiepersoonlikheid Coenie de Villiers losgeslaan het.

Lyntjie vertel: “Ek was vanaf 2014 vir ’n tyd lank ’n au pair in Engeland. Daarna het ek hier in Baberton beland waar ek ook ’n bietjie studeer het.

“My paaie het toe onder meer met dié van die bekende Flip Loots van RSG gekruis.”

Deurbraak

Voordat sy teruggekeer het na haar tuiste in Namakwaland was sy reeds by die radio betrokke – by die program Family Focus.

Tuis het sy haar as vryskut-omroeper by die plaaslike gemeenskapsradiostasie NFM in Okiep aangesluit.

Haar groot deurbraak het gekom toe sy benoem is – en gewen het – as die beste omroeper by ’n gemeenskapsradiostasie.

Hiervoor het sy vanjaar ’n ATKV-veertjie gewen. En toe begin die dinge rol en beweeg vir die Namakwalandse doedie van Springbok.

By die toekenningseremonie het sy ’n gesprek met De Villiers gehad. Hy het haar meegedeel dat hy “eendag met haar wou saamwerk”. En die res is history.

Jaars is mede-aanbieder (in die veld van korporatiewe maatskaplike investering) van De Villiers se gewilde program Stories wat Saak Maak.

Dit was haar eerste TV-ervaring en Lyntjie sê dis baie interessant.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters