5 maande gelede
Kind knou nie eksamenpunt
AMPER DAAR: Dié 18-jarige meisie se kraamtyd is naby. Sy was hoogswanger terwyl sy eindeksamen geskryf het.  ~ Basil Davids

MONTAGU. – ’n Jong meisie het baie goed gevaar in haar matriekeindeksamen, al was sy hoog met die lyf terwyl sy verlede jaar eksamen geskryf het.

Melanie* (18) het vir die ergste gevrees – dat sy in die eksamen­lokaal die lewe gaan skenk.

Vandeesweek het sy aan Son gesê die baby gaan nou enige oomblik kom.

“Ek is al ’n bietjie oor my tyd, maar ek is net bly dat ek kon deurdruk. Ek het met (matriku­lasie-)vrystelling geslaag,” het Melanie trots vertel.

Volgens haar gaan sy haar baba self grootmaak terwyl sy deur die pos swot.

“Ek is reeds aanvaar om deur Unisa onderwys te studeer. Ek gaan dit beslis vir my en die baby doen,” het Melanie hoopvol gesê.

Melanie se outjie het die skool in gr. 10 gedrop. Die laitie is nou missing in action; hy weet nie eens sy baby is op pad nie.

Aanvaar

“My ouers was baie teleurgesteld, maar ek het hulle verskoning gevra. My daddy het dit maar bitter moeilik aanvaar,” het Melanie gesê.

Volgens haar wou sy in ’n stadium haar baby laat adopt, maar met haar ma se ondersteuning het sy daarteen besluit. Sy het bygevoeg: “Ek wil graag ’n groot sukses van my lewe maak en ek wil ’n ma vir my baby wees.”

Melanie wil meisies wat in dieselfde bootjie as sy is, aanmoedig om nooit hoop te verloor nie.

“Die feit dat ek in my laaste maande in matriek swanger was, het my nie ondergekry nie.

“Ek het myself gedryf en dit was beslis die moeite werd om deur te druk,” het sy gesê.

Volgens Melanie se ouers sal hulle hulle dogter en die baby wat op pad is, ál die nodige liefde en ondersteuning gee.

* Skuilnaam.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters