19 dae gelede
‘Kid porn-onnie’ uit op borgtog
MISBRUIK: ’n Minderjarige skoolkind van Worcester was ’n slagoffer van kinderpornografie. FOTO TER ILLUSTRASIE Verskaf  ~ 

’NONDERWYSER van Worcester wat na bewering in ’n kinderpornografiese video verskyn, het self uit sy pos bedank toe sy vuil dade op die lappe gekom het.

Dié 35-jarige getroude man was ’n musiekonderwyser aan ’n hoërskool in Worcester.

Hy en nog ’n man (29) het Donderdag in die Worcester Landdroshof verskyn. Hulle is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat.

Toegeslaan

Volgens verskeie bronne het die mans met ’n minderjarige skoolmeisie seksdade gepleeg en het iemand ’n video daarvan gemaak.

Die video het glo uitgelek en die tienermeisie het toe haar mense van die voorval ingelig.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisie het ’n week gelede op die onderwyser se huis toegeslaan en dit van hoek tot kant deursoek.

“Daar is beslag gelê op ’n laptop, selfoon en ander elektriese toestelle.”

Die onderwyser is toe in hegtenis geneem.

Die ander man, ’n algemene werker wat nie aan die skool verbonde is nie, het homself aan die polisie oorgegee.

Die klagte teen die mans is dat hulle ’n minderjarige kind gebruik het om kinderpornografie te skep en/of te vervaardig en dat hulle ’n kind aan pornografie blootgestel het.

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het bevestig een verdagte was ’n onderwyser.

“Hy het op 1 Januarie 2011 as onderwyser begin en op 23 Augustus 2019 bedank.

“Hy is in hegtenis geneem en het in die hof verskyn.”

Sy sê die WKOD skors gewoonlik enigeen wat van misconduct verdink word as ’n voorlopige maatreël terwyl die departement die klag ondersoek.

“In dié geval is die onderwyser in hegtenis geneem en het hy klaar sy bedanking ingedien.

“”Die saak is nou voor ons arbeidsverhoudinge-afdeling.”

Die mans het Donderdag groot ondersteuning binne en buite die hof gehad. Die onderwyser is ’n welbekende en geliefde inwoner.

Die saak is in Oktober weer in die hof.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters