6 maande gelede
Kenner: Leer onnies om onmin te ontlont
KEN SY STORIE: Quinton Adams sê bo en behalwe normale reëls en regulasies wat by skole moet geld, móét onderwysers met vaardighede toegerus word om met aggressiewe leerders te deal. Foto: NETWERK24  ~ 

WAT van die arme onnies­?

Dié tergende vraag is hierdie week geopper ná ’n voorval vandeesweek by die posh Hoër Meisieskool Sans Souci in Nuweland waar ’n onderwyser­ ’n leerder die klap van haar lewe gegee het.

Die gebeure is op ’n selfoon vasgelê en het soos ’n veldbrand in die sosiale media versprei.

Beide die leerder en onderwyser is intussen geskors hangende ’n ondersoek na die voorval.

In die video wat sommer vinnig viral gegaan het, word die leerder aanvanklik oor die kole gehaal omdat sy nie ’n boek het nie.

Die olie op die vuur is wanneer die onderwyser die leerder se selfoon­ vat en op haar tafel sit.

Die leerder stoot dan haar bank in die onnie vas, waarna die onderwyser afhaak en die leerder in die gesig klap.

Die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, Debbie Schäfer, het die voorval veroordeel.

Quinton Adams, ’n opvoedkundige sielkundige, meen egter dit sou nie so lelik uitgedraai het as onnies oor ontlontingsvaardighede beskik het nie.

“Onderwysers word daagliks aan die aggressiewe gedrag van leerders blootgestel.

“Onnies voel weerloos en baie voel daar word nie genoeg gedoen om hulle te beskerm nie.

“Wat moet onnies maak as hulle direk gekonfronteer word met plofbare situasies?”

Gevloek

Adams verduidelik dit is hier waar die Wes-Kaapse onderwys­departement (WKOD) ’n leidende rol kan speel.

“ ’n Vraag wat gestel moet word, is of onderwysers oor deëskaleringsvaardighede beskik om situasies te ontlont, veral as hulle gevloek, uitgeskel en gedreig word,” sê Adams.

Die omstrede godsman reverend Oscar Bougaardt sê dis nie rocket science om te sien waar al die probleme in skole lê nie.

Bougaardt meen: “Die dag toe lyfstraf in die skole verbied is, is die dag toe die dissipline verdwyn het.

“Dit is so duidelik soos daglig dat daai leerder die onderwyser met haar bank gestamp het.

“Selfone hoort nie in die klas­kamer nie en as daai leerder nie ’n selfoon gehad het nie, sou dinge nie so uitgedraai het nie.

“As daai leerder in my klas was, sou sy gebrand het ...”

Jessica Shelver, ’n woordvoerder van die WKOD, is ook gevra om te verduidelik­ watter hulpmiddels tot onderwysers se beskikking is om hulle in die klaskamer teen die aggressiewe gedrag van leerders te beskerm.

Shelver is Donderdag al om kommentaar genader. Son op Sondag wag nou nog op ’n reaksie...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters