9 dae gelede
Kabel-diewe ‘help’ ook om dorp se load te shed
 ~ Basil Davids

ASHTON. – Mense van dié klein Bolandse dorpie het Vrydagoggend wakker geword en besef die hele dorp se krag en omliggende plase se krag is af.

Baie het gedog dit is load shedding, maar nee, booswigte het hope kabels gestroop.

Andries Vermeulen, ’n inwoner, sê toe hy 04:00 vir werk opstaan en die ligte wou aanskakel, het hy ontdek die krag is af.

Volgens Vermeulen het hy aan sy gesin gesê dat dit weer load shedding is wat ’n draai kom gooi het.

Vermeulen sê toe hy ongeveer 05:00 werk toe stap, was die hele dorp se krag steeds af.

Kerslig

Hy spot wanneer hy sê dat dit in daardie stadium stikdonker was dat hy nie eens sy hande voor sy oë kon sien nie.

“Ek het toe by kerslig op die skedule by die werk gaan kyk en toe ontdek ek die krag was nie veronderstel om weens load shedding af te wees nie,” het Vermeulen nog verbaas gesê.

Nog ñ inwoner, Salie Marais, sê toe die krag teen 10:00 nog nie aangeskakel is nie, het hy sommer geweet daar is iets nie pluis nie.

“Eskom se load shedding, duur op die meeste ongeveer twee tot drie ure,” het Marais gesê.

Volgens hom was baie inwoners woedend, en is eers later deur munisipale personeel in kennis gestel dat hope elektriese krag­kabels vroeër die nag gestroop is.

Beplanning

Van die inwoners sê dat die diewe nogal slimkoppe is.

Hulle meen dat die booswigte mense laat dink het dat dit load shedding is toe die hele dorp se krag afslaan, en hulle het ook hulle beplanning baie goed gedoen.

Teen laat Vrydagmiddag was die meeste van die kabels herstel en die inwoners kon met hulle daaglikse take voortgaan.

Die polisie ondersoek ’n saak van kabeldiefstal.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters