15 dae gelede
Jong ster vra ’n kans
HOPE TALENT: André­ en Anthea Morris bly hoop dat hulle seun, Lauren-Lee, op die sokker trip sal kan gaan.  ~ Eldridge Jason

WAAR daar ’n wil is, moet daar ’n weg wees – maak nie saak hoe moeilik dit is om ’n droom te ver­wesenlik nie.

Son op Sondag het laat in 2019 berig oor Lauren-Lee Morris (14) van Bonteheuwel wat droom om ’n oorsese sokkertoer mee te maak.

Lauren-Lee is ’n leerder van die Hoërs­kool Belgravia in Athlone.

Hy het die geleentheid van ’n leeftyd gekry om ’n lid te wees van die South African Schools Football Asso­ciation (Sasfa) se o. 15-sokkerspan, wat die land in toernooie in Dubai en Manchester sal verteenwoordig.

Hierdie toernooie sal van 1 tot 5 April plaasvind.

Vir ’n aspirant-sokkerspeler is hierdie ’n fantastiese kans om jou staal oorsee te gaan wys.

Hier gaan dit dan nie net daaroor om met kinders van ander lande te kompeteer nie, maar ook om die opportunity te hê om deur scouts raakgesien en, wie weet, opgeraap te word.

Maar fondse is ’n groot kwelpunt en die koste van so ’n toer beloop ’n stewige R48 000 per speler.

Lauren-Lee is sy span se doelwagter. Sy groot sokkerheld is die Manchester United-doelwagter David de Gea.

Volgens hom sal dit awesome wees om eendag vir ’n Europese topspan te kan uitdraf.

Sy mammie, Anthea, sê dis op die oomblik tough om positief te bly.

“Ons probeer regtig alles moontlik om geld in te samel.

“In Desember het ons die geleenthede gekry om by ’n bekende pizzaplek fondse in te samel.

“Ons het ook nou begin om boerewors rolls in Bonteheuwel te verkoop en beplan ’n Valentynsbal in Februarie.”

Met die opening van die skole wat reeds vir leerders en onnies om die draai is, wil die Morrisse ook môre en Dinsdag haarsny-dienste vir leerders aanbied.

Gebede

“Ons probeer alle goed om geld in te samel, maar dit is moeilik.

“Dis ook moeilik om besighede sover te kry om bydraes te maak, maar ons doen dit vir ons kind en sy droom,” sê Anthea.

Al lê die moed soms in hulle skoene, bly die Morrisse glo hulle gebede sal verhoor word.

Sonlanders en sake-ondernemings wat ’n helpende hand na hierdie gesin wil uitreik, kan hulle gerus per e-pos kontak by antheamorris08@gmail.com.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters