11 dae gelede
G’n geld meer vir gerukte enkelma
trauma: Shafeeka Naidoo herleef die nagmerrie nog elke dag. Foto: IAN BAARD  ~ 

’N VROU wat laas jaar se ontploffing by Rheinmetall Denel Munition (RDM) oorleef het, kry skielik nie meer ’n salaris nie.

Shafeeka Naidoo (34) se toekoms lyk duister sedert RDM haar salaris einde Junie stopgesit het.

Dié enkelma van die Strand weet nie hoe sy daar­sonder na haar twee dogters gaan kan omsien nie.

Ag manlike werkers is op 3 September dood in die ontploffing. Dis die ergste een wat die wapenvervaardiger nóg getref het.

RDM sê nou in ’n brief Naidoo se siekverlof van 60 dae en 60 dae trauma-verlof is op. Sy moet terugkeer werk toe.

Naidoo sê egter sy sal in skok gaan as sy weer daar moet gaan werk, want sy kry steeds terugflitse oor die tragedie.

Sy ly aan posttraumatiese stressindroom. Bedags moet sy drie kalmeerpille sluk en saans vyf.

Dít alles sodat sy net deur die dag kan kom en saans kan slaap, vertel sy.

Naidoo sê sy was ál vrou wat gewerk het in ’n gebou net langs die een waar die mans gesterf het.

Sy moes sakke van 50 kg plofstof optel.

“Ek het met die voorman oor die saak gaan praat dat ek nie meer alleen die mas kan opkom nie.

“Sy antwoord aan my was dat ek net maar so moet voortgaan, want hulle wil geld spaar en gaan nie meer mense aanstel nie.

“Die dag van die ongeluk het ek net ’n harde slag gehoor. Iemand het my uit die gebou kom haal. Ek is op my eie huis toe.

“Dieselfde nag omstreeks 01:00 het ek geweldig pyn gehad.

“Ek het gesukkel om te loop en is die volgende dag terug werk toe. Die suster by die fabriek het my versorg.

“My sorge het voortgeduur toe bloed by my mond uitloop.

“Ek is deur my eie dokter behandel. Ná ’n tyd het hy my fit verklaar vir werk, maar ek kon nie regkom nie.

“Tans ontvang ek sielkundige berading wat deur RDM betaal word, maar alles lyk nog vir my baie donker.”

Sy voeg by die bystand van haar familie beteken vir haar baie.

“Hoewel RDM my ander werk binne-in hulle kantore aangebied het, sal ek as gevolg van dit wat gebeur het, nie daar kan werk nie.

“Ek weet ook nie of hulle my beserings by die departement van arbeid aangemeld het nie.”

Ruby Maree van RDM het be­vestig Naidoo is in die ontploffing beseer.

Maree verduidelik: “Sy het verkies om haar eie dokter te sien.

“Wat haar siekverlof betref: Dis die beleid van die maatskappy dat ’n werker 60 dae se siekverlof en 60 vir trauma-verlof ontvang.”

Sy sê ook dat Naidoo geld vir 200 dae se siekverlof ontvang het.

Maree voeg by RDM sien uit daarna om weer saam met Naidoo te werk. Dit is hoekom hulle haar ander werk aangebied het.

Hulle het ook hulle hulp aangebied om haar medies ongeskik te laat verklaar, aldus Maree.

Sy bevestig: “Die voorval waarin sy beseer is, is by die departement van arbeid se Workmen’s Compensation for Occupational Injuries and Diseases aangemeld.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters