2 maande gelede
Gemeenskap is stukkend oor Shaygan
ontroosbaar: Shaygan se ouers, Damian Jantjies en Simone Simon, is verpletter deur die groot verlies. Foto’s: jonathan lestrade  ~ 

DIE oulike seuntjie met die bright ogies is nou in die hemel.

Hordes begrafnisgangers het die VKG kerk gister in Eersterivier volgepak tydens die begrafnis van die tweejarige Shaygan Simon.

Die kleuter het ’n week gelede in Blackheath gesterf toe hy in ’n drein geval het.

Sy pa, Damian Jantjies, wat saam met hom gestap het, het sy seuntjie vergeefs uit die drein probeer kry.

Gister was daar nie ’n droë oog in die kerk nie.

Die trane het begin vloei toe klein Shaygan se wit kissie die kerk ingedra is.

IN MEMORIAM: Die bedroefde ouers steek ’n kers aan ter nagedagtenis aan hulle seuntjie.

Ds. Eddie Kotze het in sy preek gesê die hele gemeenskap voel saam met Shaygan se familie die seer.

“Ons gemeenskap is geslaan deur hierdie verlies.

“Ek dink nie ons kerk was al ooit só vol nie.

“Vandag gee ons Shaygan terug aan die aarde se skoot, maar God sal ons trane opskep en antwoorde aan ons gee.”

Leerders van die Laerskool RR Franks het ’n hartroerende lied aan Shaygan opgedra.

Daarna het sy oupa Rodney Boks in sy huldeblyk gesê hy gaan sy kleinkind verskriklik baie mis.

Crèche

hemel toe: Simone Simon en ander familielede dra haar klonkie se wit kissie die kerk binne.

“Shaygan was ’n woelwater van ’n mannetjie.

“Hy het gehou van hardloop en maak nie saak hoe moeg ek smiddae uit die werk uit gekom het nie, hy het daarop aangedring dat ek buite saam hom moet gaan hardloop.

“Hierdie jaar was ook sy eerste jaar by die crèche en hy het hom soggens by sy ouma gaan wegsteek as die taxi in die oggend daar buite opgetrek het.

“Hy was baie lief vir druiwe en ons gaan daai stemmetjie van hom baie mis, maar ons sal hom eendag weer sien...”

Die trane het behoorlik gevloei toe ’n kort video oor Shaygan se lewe gespeel is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
15 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters