6 dae gelede
Gemeenskap byeengebring
hartseer: Davideen Lucas, die kind se ma, kon die trane nie keer nie.Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

AS KLEIN Orderick Lucas (1) se dood iets moet beteken, is dit dat mense herenig is.

Dit is die boodskap van apostel Selwyn Page van New Life Family Ministries in Eersterivier.

Page het gister die boodskap by Orderick se begrafnis gebring.

Die kindjie se lyk is in ’n drein gevind. Hy is op 24 Maart laas lewend gesien. ’n Soektog van nege dae het gevolg. Sy lyk is op 2 April in ’n drein in Wittebolstraat gevind.

Sy ma, Davideen Lucas, se haarkapper-vriend, Melvin Volkwyn, loop hof vir sy ontvoering, moord en dwarsboming van die gereg.

Orderick se familie kon nie sy lyk uitken nie omdat dit in ’n erge fase van ontbinding was. Sy ouers, Davideen en Kounkou Safrane, moes DNS-toetse doen voordat die lykie aan hulle toevertrou is.

Die couple se kinders, ’n tweeling (6) en ’n ouer suster (Davideen se kind uit ’n vorige verhouding) het ook gister die begrafnis bygewoon.

Die seuns is uit die ma en ouma se sorg gehaal toe Orderick se lyk gevind is. Die meisie woon van kleins af by haar ander ouma.

Die saal waar die diens gehou is, was stampvol.

Volkwyn se ondersteuners was nêrens te sien nie.

Page sê Orderick het sy ma en ouma Cornelia Lucas bymekaar gebring. “Ek weet nie wat die verhouding voorheen tussen julle was nie, maar wat ek nóú sien, is mooi.”

Verlam

Hy sê die kind se dood het Eersterivier as gemeenskap ook bymekaargebring.

Page het Orderick se lewe met dié van Mephibosheth, kleinkind van koning Salomo in die Bybel, vergelyk.

Mephibosheth se oppasser het hom laat val toe hy vyf jaar oud was. Hy was verlam ná die val.

“Kinders gee nie om wie hulle laat val of in die steek laat nie. Hulle bly onvoorwaardelik lief. Hulle is ook nie haatdraend nie.

“Êrens het iemand ook vir Orderick laat val. Die een wat na hom moes kyk, het hom laat val. Maar in sy dood remind Orderick ons om op te staan en aan te gaan.

“God het toegelaat dat Orderick moes sterf vir mense om weer bewus te word van Sy genade.”

Page het mense ook aangemoedig om gereeld te bid en God vir genade vir hulle kinders te vra.

Die Lucas-familie het in die kerk in ’n kring om Orderick se wit kissie gestaan en bid. Die roubeklaers se trane het in die diens vrylik gevloei.

  • Volkwyn se aansoek om borgtog word Dinsdag in die Blue Downs-hof aangehoor.

    Lewer kommentaar op hierdie artikel
    0 reaksies
    Lewer kommentaar
    Kommentaar 0 oorblywende karakters