2 maande gelede
Geen closure vir geliefdes
smart: Triston Davids se ouers, Lizle en Malcolm, se harte is nog rou oor die verlies van hulle seun.Foto’s: jonathan lestrade  ~ 

’N JAAR van pyn en verlange is al verby, maar steeds weet naasbestaandes nie wat die oorsaak was van ’n ontploffing wat geliefdes vir ewig van hulle weggeruk het nie.

Daar is geen twyfel dat die gemeenskap van Macassar nooit die dag van 3 September 2018 sal vergeet nie.

Op dié tragiese dag het ag werkers van Rheinmetall Denel Munition (RDM) hulle lewe verloor in ’n ontploffing wat kilometers ver gevoel is.

Die gemeenskap van Macassar het die plaaslike VGK Dinsdagaand volgepak ter herinnering aan die oorledenes.

Die seer is nog rou. Baie rou.

Die verlange na Nico Samuels (41), Stevon Isaacs (51), Mxolisi Sigadla (40), Bradley Tandy (19), Jamie Haydricks (24), Jason Hartzenberg (22), Triston Davids (22) en Thandolwethu Mankayi (27) kan nie gestil word as families en die gemeenskap nie weet wat gebeur het nie, meen raadslid Victor Isaacs.

Sterk

Isaacs sê: “Hierdie datum (3 September 2018) is ’n datum in Macassar se geskiedenis wat ons nooit sal vergeet nie.

“Dit is ons hoop om hierdie gebeurtenis wat ons seergemaak het, te gebruik om ons weer sterk te maak.

“Nooit, ooit het die gemeenskap van Macassar so saamgestaan soos met dié tragedie nie, maar dit is ’n jaar later en steeds het RDM geen antwoord vir ons oor die oorsaak van die ontploffing nie.

“Daar is baie vrae en ons sal graag closure wil hê en totdat ons nie hierdie antwoorde het nie, gaan ons RDM nog ’n bietjie verantwoordelik hou en hulle vra om eerlik met ons te wees.”

Justin Ayman het ten tyde van die tragedie op dieselfde skof as die oorledenes gewerk.

“Ons was soos ’n familie omdat ons so baie tyd saam deurgebring het by die werk.

“Onder hulle was pa-figure en entertainers, en hulle dood was vir my baie swaar.

“My boodskap aan die families is om vas te hou aan Jesus vir comfort, want Hy belowe tog dat ons hulle eendag weer gaan sien.”

’n Plaaslike jeugleier, David Coetzee, het gesê hy onthou die dag van die tragedie asof dit net gister was.

“Dit was ’n sonnige Maandagmiddag en toe ek die devastating nuus ontvang, het ek dadelik aan al my familie en vriende wat daar werk, boodskappe gestuur om te hoor of hulle oukei is.

“Almal het teruggeantwoord. Almal behalwe Triston.

“In die jaar sedert daai hartseerdag het ek geleer dat dit oukei is om hulle te mis en dat ’n lewe binne ’n knipoog tot ’n einde kan kom.”

Die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, Albert Fritz, het gesê hy verstaan die pyn waardeur die naasbestaandes en gemeenskap gaan.

“In 2015 moes ek op Nuwejaarsdag ’n besluit neem om die masjiene af te skakel wat my broer aan die lewe gehou het.

“Die kerse wat ons vanaand aansteek, is nie net om die oorledenes te onthou nie, maar hierdie moet ook vir ons ’n lig wees waarmee ons standpunt inneem teen die evils in ons gemeenskappe,” het Fritz gesê oor die wrede moorde en aanvalle op vroue die laaste tyd.

’n RDM-woordvoerder, Ruby Maree, het gesê hulle wag steeds op die uitkoms van die ondersoeke van die departement van arbeid en die polisie.

“RDM se interne ondersoek na die voorval is ook steeds aan die gang. Sodra die ondersoeke afgehandel is, sal ons deursigtig wees en die uitslag hiervan bekend maak.” 

helde: Die dood van dié ag werkers het die Macassar-gemeenskap nader aan mekaar gebring.FOTO VERSKAF
voel saam: Albert Fritz het sy eie pyn saam met die gemeenskap gedeel.
familie: Justin Ayman sê die oorledenes was meer as net kollegas vir hom.
onthou: ’n Familielid van Bradley Tandy steek ’n kers op ter nagedagtenis aan hom.
smart: Triston Davids se ouers, Lizle en Malcolm, se harte is nog rou oor die verlies van hulle seun.Foto’s: jonathan lestrade
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters