2 maande gelede
Geen afskeid nie – net die helse slag
soek antwoorde: Lizle Davids sê sy kon nie eens behoorlik behoorlik afskeid neem van haar seun Triston se remains nie.  ~ 

TRAGIESE September.

Dís hoe die gemeenskap van Macassar die ontploffing dié week by Rheinmetall Denel Munition (RDM) sal onthou.

Die nuus daaroor het skokgolwe oor die wêreld gestuur.

Ses van die ag mense wat hulle lewe verloor het, was van Macassar.

En ’n paar van hulle het nog nie eens lank by die wapenvervaar­digingsaanleg gewerk nie.

Owerhede krap steeds kop oor die oorsaak van die ontploffing wat tot in Pringlebaai weergalm het.

Hulle het gesê dit kan tot drie maande duur om DNS-toetse af te handel om te bepaal presies wie se remains is wie s’n.

Twee voete het ná die verwoesting op die toneel oorgebly. Die res van die oorskot was meestal stof en as.

Maar gebroke ouers soos Lizle Davids, ma van die slagoffer Triston Davids, sê sy soek nóú antwoorde oor wat Maandag skuins voor 16:00 tydens haar seun se skof skeefgeloop het.

Volgens Lizle, ’n verpleegster, was sy self besig om vir werk klaar te maak toe hulle die harde knal hoor.

onthou: Mense lê vroeër die week kranse by Rheinmetall Denel Munition, waar ag werkers omgekom het.
groot seer: Mense het hulle na die toneel gehaas toe die nuus breek.
soek antwoorde: Lizle Davids sê sy kon nie eens behoorlik behoorlik afskeid neem van haar seun Triston se remains nie.

“My man, Malcolm, het na RDM gejaag en my toe met die tragiese nuus gebel.

“Ek soek my kind terug,” sê sy terwyl die trane oor haar wange stroom. “Ek het my kind lewend na RDM gestuur om te gaan werk, ek soek hom lewend terug.”

Lizle sê hulle hoor nou baie stories, maar sy wil hê RDM moet met die waarheid vorendag kom.

“Nadat ek die nuus van Triston gehoor het, wou ek nie meer asemhaal nie. Ek het die oggend daarna sommer al huilend wakker geskrik en moes dokter toe vir ’n kalmeer­inspuiting.

“Die ergste ding wat ’n ma aangedoen kan word, is om by die site te staan waar jou kind gesterf het en dan kan jy nie die remains sien nie.

“Die vans met die kiste in het net verby ons gery en ek moes my hand teen een van hierdie vans sit en hoop Triston se remains is daarin.

“Ek wou soos enige moeder baai sê vir haar kind, maar ek kon nie ...”

lieflik: Triston Davids se ma sê hy was ’n kind met mooi maniere en respek vir almal.
opgewonde: Jamie Haydricks het volgens sy familie uitgesien daarna om te gaan werk. FOTO’S verskaf
positief: Past. Adrian Manuel sê die tragedie het Macas­sar se gemeenskap nader aan mekaar gebring.

Jamie Haydricks het die Maandagmiddag opgewonde gaan werk.

Jamie was ’n maand lank by die huis omdat daar nie werk vir hom was nie.

“Hy was so opgewonde om weer kos op die tafel te kon sit vir sy meisie, Lirika, en hulle twee kinders.

“Hy en Lirika het selfs planne gemaak om te trou. Nou moet hulle die lewe sonder hom aanpak,” het Deidre Jansen gesê.

Die hele Macassar het dié week laer getrek rondom die bedroefde families in hulle midde.

“Julle pyn is ons pyn. Julle kinders was ons kinders,” het ’n hartseer past. Adrian Manuel Woensdagaand in sy roudiens gesê.

Oud en jonk het na hierdie diens opgeruk en die trane het vrylik gevloei. Almal was een in hulle hartseer en smart.

Jacobs het gesê as daar een positiewe ding is wat almal uit die tragedie kan neem, is dit hoe die tragedie die gemeenskap nader aan mekaar gebring het.

“Al is ons almal hartseer, is daar ’n positiwiteit in die lug.

“En hoewel almal antwoorde soek, moet die families vir nou eers die kans gegee word om vir hulle geliefdes te mourn,” het hy gesê.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters