25 dae gelede
Familie steeds vol frustrasie
ONTEVREDE: Petina Timm sê sy en haar familie het nog baie vrae.  ~ JONATHAN LESTRADE

‘JEREMIAH is oorlede.’

Dit is nie die woorde wat jy verwag iemand moet gebruik wanneer dit kom by kinders nie.

Drie jaar ná sy moord voel dit asof die sout net dieper in hul wonde gevryf word omdat daar steeds nie finale justice vir hom is nie.

Jeremiah Ruiters se aunty Petina Timm sê sy onthou daardie dag asof dit net gister was toe haar ma haar vertel het haar nefie is oorlede.

“Dit was ’n Maandag toe ons leer dat die aaklige ding met my nephew gebeur het. Ek en my ma het nog woorde op die foon gehad.

“Ek sê nog: ‘Nee man, Mammie, wat meen Mammie Jeremiah is oorlede?’

“Dit is mos nie ’n woord wat jy gebruik wanneer dit kom by kinders en veral nie babas nie.

“Ek het haar teruggebel en sy het vir my dieselfde ding gesê en ek kon nie verstaan nie. Hoe sterf ’n baba net?” vra Timm.

Die klein babaseuntjie was maar 17 maande oud toe hy op 12 Junie 2017 by die Factreton-kliniek dood verklaar is. 

Beserings

Jeremiah was daardie dag in sy ma, Abigail Ruiters, se boyfriend, Ameerudien Peters, se sorg.

Peters is die een wat die kind na die kliniek toe geneem het waar dokters en verpleegsters niks meer vir hom kon doen nie.

Die babaseuntjie is dood as gevolg van veelvuldige beserings aan sy klein liggaampie.

Peters is laas jaar skuldig bevind aan kindermishandeling, verkragting van en die moord op Jeremiah, terwyl die kind se ma vrygespreek is op alle klagte behalwe dié van kindermishandeling.

Die Timm-familie het van dag 1 af toe die saak in die laerhof begin het die baba se naam lewend gehou deur die hofsaak by te woon.

Timm sê sy en haar familie het baie vrae oor die straf wat Jeremiah se ma gekry het.

Sy sê sy het baie hoop gehad toe die saak nog in die laerhof was.

“Die staatsaanklaer in die laerhof het ’n spade ’n spade genoem.

“Ek het elke dag hoop gehad dat die saak goed sal verloop omdat die staatsaanklaer passievol was oor die saak.

“Toe dit na die hooggeregshof gaan, was ons overjoyed en ons het gedink dit gaan ’n verskil maak, maar dit was asof nie alles uitgekom het nie. Dit is asof ons die saak net in stukkies gesien het. Daar is in my opinie nie ál die facts disclose nie,” vertel Timm.

Sy sê sy is gefrustreerd oor die regstelsel en dat haar frustrasies nie net oor haar nefie se moord is nie.

“Hy is nie meer hier nie. Hy is in vrede, hy rus. Niemand kan hom meer seermaak nie.

“Hy is nie deur vreemde mense vermoor of ontvoer nie. Dit het in hul huis gebeur.

“Ek is nou bekommerd oor die volgende generasie omdat dinge nie beter gaan nie. Waar is die erns wanneer dit kom by ons kinders en vroue?

“Wanneer sal die justice sys­tem staan vir wat hulle sê?” vra sy.

Timm sê sy vra dit omdat sy geskok was toe Jeremiah se ma vrygespreek is op al die ander klagte behalwe kindermishandeling.

“Ek het hoop gehad met al die bewyse dat die uitslag anders sou wees. Dit het my gebreek toe dit nie so is nie. Ek, ons as familie, het nog baie vrae,” sê sy.

Timm sê verder haar nefie sal veral altyd onthou word as ’n engeltjie.

“Hy was ’n engel. Hy was onskuldig, net soos alle kinders wat uit die lewe geneem is deur iemand anders se hande.”

Wat die vertragings in die saak betref, sê Timm sy verstaan ??dat die Covid-19-pandemie almal se lewe oorgeneem het, maar terwyl almal gespanne is om voedsel op die tafel te sit, is hulle steeds gespanne oor hul nefie se moord en wat die finale uitkoms sal wees.

Ruiters en Peters sal weer op 4 Augustus in die hof verskyn vir vonnisoplegging.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters