11 dae gelede
‘Ek hoop imbizo is nie net show'
gepak: Mense het van ver gekom om te hoor wat min. Bheki Cele weer te sê het.  ~ 

GAAN dit net ’n imbizo wees waar daar appels en piesangs uitgedeel word, of sal daar once and for all daadwerklik aandag aan misdaad binne gemeenskappe geskenk word?

Dít was Vrydag die vraag op baie se lippe tydens ’n misdaad-imbizo wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Lavender­ Hill op die Kaapse Vlakte gehou het.

Mense het van heinde en ver na dié bendegeteisterde gemeenskap opgeruk om te hoor wat die minister van polisie, Bheki Cele, oor die probleem te sê het.

Dié imbizo is gereël sodat Cele kon luister na wat die slagoffers van misdaad in vuisvoos gemeenskappe op die hart het.

Die verrigtinge moes eintlik 09:00 afskop het.

Baie van die aanwesiges was glad nie impressed daarmee toe min. Cele en die Wes-Kaapse polisiekommissaris, lt.genl. Thembinkosi Jula, eers ’n hele twee uur later uitgesteek het nie.

Die inwoners moes in die tussentyd maar kou aan die appels en piesangs wat by hul aankoms uitgedeel is.

Die markiestent was tjok-en-blok vol en net ’n muis wat lus sou wees vir ’n piesangskil of twee, sou sy lewe in dié stampvol tent waag.

Die voorsitter van die Blue Downs-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Eersterivier, Lorna Frieslaar, sê hulle hoop misdaad gaan nou ná hierdie imbizo finaal die nekslag toegedien word.

“In ons area is ernstige misdade soos moord en verkragtings aan die afneem, maar inbrake en rooftogte bly ’n kopseer.

“Die winter is aan die kom en mense word ook nou baie beroof soggens in die donkerte op pad werk toe,” verduidelik Frieslaar.

Anthony Destoria van Delft sê hulle het deesdae ook hul hande vol met die misdadigers in veral Voorbrug.

“Ons doen wat ons kan, maar die abuse van ons kinders en seniors­ moet veral aandag geniet.

“Polisiëring kan slegs ’n sukses wees as dit hand aan hand met die gemeenskappe loop,” meen Destoria.

’n Inwoner van Lavender­ Hill wat anoniem wil bly, sê hy hoop die imbizo is nie net nog ’n show nie.

“Daar w­as twee jaar gelede ook so ’n imbizo hier by ons en daar het niks van dit gekom nie.

“Ons vrees hier vir ons kinders se lewe en sien baie dinge wat hier gebeur, maar mag niks sê nie, want dan word jy geskiet.”

Talle rolspelers in die polisie, GPF’s en organisasies sonder winsbejag het die geleentheid gebruik om voorstelle te deel oor hoe om ’n vinger in crime se oog te druk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters