8 dae gelede
Egpaar help kinders om beter te lees
Breinkind: Russel Crimm en sy vrou verrig wondere in die Blue Downs-gemeenskap.  ~ Eldridge Jason

ONTMOET die lees-engele wat ’n verskil in kinders se lewe wil maak.

Met die wêreldwye Read Out Loud-dag wat dié week gevier is, het ’n couple besluit om ook die moue op te rol en hulle deel te doen vir die leesvaardigheidsontwikkeling van ons kinders.

Russel en Veronica Crimm het jare lank in Londen gebly. By hulle terugkeer na die land het die egpaar besluit hulle wil graag hand bysit om kinders ’n hupstoot in die lewe te gee.

Russel het jare in die kleinhandel gewerk en Veronica was 30 jaar lank ’n verpleegster.

Instem

Die twee het toe besluit om hulle werk op te gee en uit hulle eie sak leesontwikkelingsklasse met Reading Aloud, hulle organisasie sonder winsoogmerk, by Blue Downs Primêr in Eerste­rivier aan te bied.

“Ons het die skoolhoof, Gavin Solomons, met ons idee genader.

“Toe hy instem, het ons gedink ons sal seker so met sewe kinders werk, maar tot ons skok word 80 kinders toe na ons klasse gestuur,” vertel Russel.

Hy sê dit is ’n baie groot uitdaging wat hom en sy vrou tot laat in die aand besig hou.

“Ons het verskillende besighede in die gemeenskap genader, maar kan jy glo, slegs een van hulle het besluit om ons te support.

“Sowat 15 mammies van leerders wat by ons program betrokke is, offer tans ook hulle tyd op om sonder vergoeding hierdie kinders onder hande te neem.

“Die ma’s het opleiding ontvang oor hoe om met hierdie kinders te werk. Hulle toegewydheid maak ’n mens eintlik ’n bietjie skaam, want ons sou graag in ’n posisie wou wees om hulle darem ’n ietsie te betaal,” vertel Russel.

Sy vrou, Veronica, sê hulle inspirasie was hulle 23-jarige outistiese seun.

“Ons wil ander kinders help, want as jy nie kan lees nie, gaan jy met jou skoolwerk sukkel. Ons leer leerders van gr. R af die basiese leervaardighede.

“Hoewel dit nie ’n maklike taak is nie, is alles die moeite werd as ons sien hoe kinders verbeter en hoe die lees­gogga hulle byt.”

Lauren Koopman het onlangs haar honneursgraad in sielkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf, en is ’n vrywillige wat die kinders onder hande neem.

“Ek het altyd daarvan gehou om met kinders te werk en was dadelik geïnteresseerd toe Russel my nader.

“Ek sukkel nog om werk te kry en dié is ’n goeie geleentheid vir my om deel te wees van so ’n wonderlike projek,” sê sy.

Cornay Benn, ’n ouer, sê sy het besluit om betrokke te raak ter wille van haar kroos wat by Blue Downs Primêr skoolgaan.

“Veral my dogtertjie het laas jaar gesukkel met lees.

“Ek het nie geweet hoe om haar te help nie.

“So, ek help ander kinders, terwyl die res van die ouers my kinders help. Ek is die fun van die projek. As ’n kind lag, dan is hy gelukkig.”

Shaheeda Baza sê sy het besef – toe sy agterkom dat ’n familielid sukkel om te lees – dat kinders alle hulp moet kry wat hulle benodig.

Spanpoging

“My dogtertjie is nou in gr. 1 en ek dink dié is ’n wonderlike projek om ander kinders te help.

“Hierdie is ’n spanpoging en dis lekker vir my om my deel te kan doen,” meen Baza.

  • Besighede wat graag by die projek betrokke wil raak, kan Russel Crimm gerus kontak by 081 753 3824.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters