7 dae gelede
Droom in stukke oor twee vakke
GESKOK: Onke Sibeko is glad nie gelukkig nadat hy besef het sy drome kan nie nou so maklik waar word nie.Foto: MELINDA STUURMAN  ~ 

DIT is ’n klap in sy gesig!

Vir drie jaar het Onke Sibeko twee vakke op skool gedoen wat hom vandag in die steek laat.

Die 18-jarige inwoner van Delft was vies toe hy besef hy kan nie sy drome vir 2019 bereik nie.

Onke was opgewonde toe hy in Januarie op spesiale uitno­diging ’n toekenning vir sy prestasie in tegniese wetenskap van die Wes-Kaapse onderwysdepartement by die premierswoning, Leeuwenhof, ontvang het.

Onke was daardie dag by die toekennings super-trots. Maar die opgewondenheid het ’n kort lewe gehad.

Beurs

“Dit het unreal gevoel dat ek van alle leerders eerste in die provinsie gekom het vir tegniese wetenskap. Ek het dit nooit verwag nie.

“Dit was ’n oomblik waarin ek besef het alles is moontlik.

“Ek het gedog ek sou gou ’n beurs kry en my tersiêre studies begin.”

Maar wat die saggeaarde jong man nie besef het nie, is dat die studierigting wat hy wou inslaan, nie moontlik sou wees met die twee vakke wat hy op skool gedoen het nie.

Dié vakke is tegniese wetenskap, waarin hy in 2018 die top-matrikulant in die provinsie was, en tegniese wiskunde.

“Ek wil graag rekeningkundige wetenskappe studeer en ná dit meganiese ingenieurswese, maar dis nou nie moontlik nie.

“Ek moes eintlik van graad 10 af wiskunde en physical science geneem het.”

Onke was verbaas toe hy uitvind hy is nie by die Universiteit van Wes-Kaapland, die Kaapse Skier­eiland-Universiteit vir Tegnologie en die Universiteit van Kaapstad aanvaar nie.

“Dit het gevoel soos ’n klap in die gesig. Hoekom het ek dan vir drie jaar daardie vakke geleer?

“Hoekom het niemand aan my verduidelik dat ek nie met hierdie vakke verder kon swot nie? Hoe is dit moontlik dat ek nou van vooraf moet begin?” wonder hy.

Onke se droom was om so gou moontlik klaar te studeer sodat hy tot hulle huishouding kon bydra.

“Ons sukkel. My ma doen haar bes vir my en my broer, en nou voel dit of ek my tyd gemors het.”

Maar Onke gee nie maklik op nie.

Al het drie instellings hom nie aanvaar nie, is hy reeds besig om sy dinge agtermekaar te kry.

“Ek is tans ’n student by Rosebank College in Mowbray, waar ek physical science en wiskunde vir graad 12 oordoen sodat ek die regte vakke het om te studeer.

“Ja, dit vat ag maande uit my lewe weg, maar ek kan nie sit en wag vir die tersiêre stelsel om by te kom nie. Ek vat nou my toekoms in my hande. Ek sal my drome bereik, al het die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel my teleurgestel!”

Die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) weet van Onke Sibeko se geval, want die departement van hoër onderwys en opleiding het die UWK hieroor ingelig.

Gasant Abarder, woordvoerder van die UWK, sê die universiteit sien die leerder het potensiaal.

Daarom sal die bestuurseenheid vir studente-inskrywings, wat by die universiteit gebaseer is, hom ontmoet om hom leiding te gee oor opsies vir sy toekoms.

Aansoek

Die Universiteit van Kaapstad (UK) het bevestig Onke het aansoek gedoen vir toelating tot twee programme.

Ten spyte van sy sterk punte in die twee tegniese vakke, kon hy nie toegelaat word nie.

Elijah Moholola, woordvoerder van die UK, sê Onke se algehele prestasie was nie sterk genoeg nie en tegniese wiskunde en tegniese wetenskap word nie as plaasvervangers vir wiskunde en fisiese wetenskappe beskou nie. “Die vakke word erken. Niks verhoed skoolverlaters om met dié vakke verder te studeer nie – solank dit nie as plaasvervangers gebruik word in programme wat wiskunde en fisiese wetenskap vereis nie.”

Onke het ook by die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) aansoek gedoen. Vir ingenieurswese is die minimum toe­latingsvereiste ’n 50%-slaagsyfer in suiwer wiskunde en wetenskap.

Ongemaklik

Lauren Kansley, KSUT-woordvoerder, sê daar word al lank daaroor gepraat om tegniese wiskunde en wetenskap te erken, maar dis nog nie goedgekeur nie.

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys, het gesê dis ongemaklik om vrae oor die vakke te beantwoord omdat dit eintlik ’n vraagstuk van die departement basiese en hoër onderwys is.

Volgens Hammond is die tegniese vakke in 2016 vir gr. 10 bekend gestel. In 2017 is dit vir gr. 11 ingefaseer, en in 2018 vir gr. 12 as deel van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)

“Tegniese vakke word erken as NSS-vakke. ’n Leerder wat dit neem en die nodige vier vakke se slaagsyfer behaal (50% of beter), sal universiteitstoelating kry.”

Hammond sê waar toelatings tot ’n graadprogram ’n slaagsyfer in wiskunde­ in die NSS-eksamen vereis, mag ’n slaagpunt in tegniese wiskunde net ’n plaasvervanger wees as die institute vir hoër onderwys dit so goedgekeur het.

“Aan universiteite kan wel graadprogramme wees waar tegniese wiskunde of wetenskap aanvaar word. Die vakke is laat in 2018 geproklameer. Daarom het baie universiteite se senate nie tyd gehad om ’n verandering in toelatingsvereistes te oorweeg nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters