16 dae gelede
Dorp swyg oor onnie se dood

’N TOE bek is ’n heel bek.

Dit is hoogs waarskynlik hoekom die inwoners van Clanwilliam swyg soos die graf oor die moord op ’n jong onderwyseres van Swellendam.

Allison Plaatjies (26), oftewel Sussie, soos geliefdes haar genoem het, is laas naweek in Clanwilliam vermoor.

Sy was ’n onderwyseres by die Sederberg Primêre Skool in Clanwilliam.

Sussie en haar vermeende moordenaar, Philip April (24), was ’n paartjie en het op die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (CPUT) se kampus in Wellington ontmoet.

Die onderwyseres, wat dié jaar by die Sederberg Primêre Skool in Clanwilliam begin teach het, het volgens inwoners by April en sy ouers gewoon.

Sy het onlangs uitgetrek en op haar eie gaan bly.

Volgens haar vriende het die couple se paadjies sowat twee weke gelede geskei oor April na bewering vir Sussie rof behandel het.

Die vriende beweer dit was nie die eerste keer nie en hy het dit selfs voor ander mense gedoen.

“Hy het Vrydag (25 Oktober) haar weer gesoebat vir nog ’n kans, maar sy was klaar,” sê ’n buddy.

Sussie se bebloede lyk is Sondagaand in haar flat gevind.

Daar word beweer sy is keelaf gesny.

By Son se besoek aan die flat, wou die eienaar nie die verslagspan op die perseel toelaat nie.

Son het by ander inwoners gaan klop, maar is telkemale weggewys.

Hier en daar was daar inwoners wat wel net oor April wou gesels.

“Sy mense is gesiene mense. Hy is nie ’n violent mens nie. Niemand weet wat in hom gevaar het nie,” is van die goed wat oor hom gesê is.

Ander het wal gegooi. “Mens wil niks sê nie, want môre-oormôre kom hulle vir jou. Die dorp is net te klein en almal ken almal.”

April het Woensdag sy eerste hofverskyning op ’n klag van moord gemaak.

Hy is in Sussie se kar gevang en ’n saak van motordiefstal is by die moordklag gevoeg. Sussie het die kar onlangs gekoop.

Die Cederberg Munisipaliteit se nuwe burgemeester, Sylvia Qunta, sê die hele dorp is baie sad oor wat met Sussie gebeur het.

Harte

“Maar ons dink aan altwee families in dié tyd.

“As gemeenskap gaan ons harte na altwee families uit.”

Shonaya Swartz, ’n maatskaplike werker by die polisie se victim support in die gebied, sê mense wat weet van vroue of kinders wat mishandel word, moet die stilte verbreek.

April se ma, Rolene, wou geen kommentaar lewer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters