2 maande gelede
Dis peaceful chaos
doodloopstraat: weens die march kon dié lykwa nie by die Maitland begraafplaas in nie. Foto: Tracy-Lynn Ruiters  ~ 

­HULLE het genoeg gehad van die snotgatte wat hulle lewens determine.

Vrydag het die gemeenskap van Kensington in hul honderde die strate ingevaar. Hulle wou wys hoe op hulle is van in vrees leef vir gangsters wat hulle soos dik dinge in die strate wil kom hou.

Meer as 300 inwoners Kensington het vreedsaam in Voortrekkerweg betoog sodat die cops hulle kan hoor en raaksien.

Die pad was ure vir voertuigverkeer gesluit – tot groot konsternasie van motoriste.

Die marchers eis die polisie moet hulle bekommernisse kop toe vat.

Shannon Manuel, ’n inwoner, sê: “Ons het nou rêrig genoeg gehad van hoe hulle (die polisie) ons treat. Hulle vat ons nie ernstig op nie.

“Ons het al briewe geskryf, met hulle probeer vergader, gesmeek vir support, maar niks kom daarvan nie. Ons is vandag op die straat om te wys ons is ernstig.”

Manuel sê hulle word weggewys as hulle sake wil aanmeld.

“Ons kan nie so aangaan nie – iewers moet dinge verander. Gee ons mense wat competent is in hulle werk. Polisiebeamptes wat wil help. Nie dié wat op die payroll van gangsters is nie,” sê sy.

’n Inwoner wat anoniem wou bly, stem saam: “Ons het pickets gehou en vergadering ná vergadering met die raadslid en GPF gehad, maar niks kom daarvan nie.

“Ons soek aksie en sal aanhou betoog en ons stem dik maak tótdat iemand intree.”

Die inwoners sê hulle gaan nie toelaat dat ’n minority hulle strate beheer nie. En dan word die polisie nie eens accountable gehou nie.

gatvol: Shannon Manuel sê hulle het genoeg gehad en soek aksie.
verstaan: Zainulabideen van der Schyff wil met die cops saamwerk.

“Ons sal aanhou peaceful chaos create in ons strate tótdat ons verandering sien,” sê een.

Die gemeenskap het in Voortrekkerweg gestap tot by die polisie­stasie, waar hulle gewag het om van die stasiekommissaris te hoor.

Dankbaar

Lt.kol. Fanie Scanlen het die gemeenskap buite die polisiestasie ontmoet nadat hy ’n vergadering met leiers van die gemeenskap gehad het.

Scanlen het gesê hy is dankbaar vir die inligting wat hulle met die polisie deel.

Dit het gelei tot die arrestasie van verdagtes wat by onlangse moorde betrokke was.

Beslag is ook gelê op vuurwapens en ammunisie.

staan saam: Honderde inwoners het hulle stemme laat hoor tydens die betoging in Kensington. Foto’s: PETER ABRAHAMS
hoor ons: Lede van die gemeenskap march na die polisiestasie.
LT.Kol. Fanie Scanlen

Hy het verder gesê die situasie by die stasie is gestabiliseer en Operation Thunder voer tans operasies in die gemeenskap uit.

Scanlen voeg by al die gemeenskap se vrae sal teen volgende Woensdag beantwoord word.

Kensington GPF-woordvoerder, Zainulabideen van der Schyff, sê die organisasie ondersteun die gemeenskap.

“Die mense is rêrig moeg en gatvol. Hulle verdien beter diens van die polisie,” sê hy.

Van der Schyff sê hy verstaan daar is ’n tekort aan resources by die stasie en dit maak dit baie moeilik vir die dun gesaaide cops om hulle werk reg te kan doen.

Hy sê die nasionale regering moet hierna kyk en die stasie die regte resources gee om hulle werk reg te kan doen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters